Sleutelwoorde

Soms voel ek baie dun uitgesmeer, dan voel ek of my alignment bietjie uit is, dan wens ek ek kon my soos ‘n kar op daardie dun spoortjies oor ‘n groot gat trek, dat werktuigkundiges kan stel en smeer en so, totdat alles weer mooi in lyn is.

Emosioneel kan mens nog met jouself werk, bietjie lug en oefening kry om beter te voel, maar as jou alignment fisiek uit is, dan is dit séér. Soms buk of draai mens mos net verkeerd en dan kry jy so knyptang wat jou laerrug vasvat en ‘n stewige draai gee.

Hier rondom 1980 het ek een dag ‘n skielike pyn op my onderbuik gekry, soveel so dat ek later nie kon loop nie, en die dokter het dadelik gedink aan ‘n buisswangerskap. Hy het die suster twee maal ‘n swangerskaptoets laat doen, en wou nie aanvaar dat sy diagnose verkeerd kan wees nie, en my reguit hospitaal toe gestuur, en ‘n noodoperasie gereël. Daardie tyd het hulle baie maklik ‘n Laparotomie (oopsny om te kyk) gedoen, sonars was nie so algemeen nie.

Ek het gedink, Ja dokter (ordentlike taal vir jou moer, man) en my man reguit na my homeopaat toe laat ry, en hy het my een kyk gegee en gesê, lê op jou sy, buig so, hy het my lyf diekant toe en daaikant toe gedraai, en die werwel wat ‘n senuwee vasgeknyp het, het uitgeglip. Ek het daar uitgestap, met effense ongemak. (Die Homeopaat was ook opgelei as Chiropraktisyn).

Hier rondom 1998 het ek my rug op ‘n manier seergemaak by ons kwekery, en ek is hospitaal toe vir X-strale. Ek is daar uit met ‘n verwysing vir ‘n ortopediese sjirurg, met ‘n lys van foute in my rug so lank soos my voorarm. Van effense skoliose tot osteo-dit en spondeo-dat en dis degenerasie van dit  L3 en S1 en die versekering dat ‘n operasie sommer vanaand of more uitgevoer sal word.

Hierdie keer is ek reguit na dr Brugman in Randburg (Chiropraktisyn) wat die X-straal verslag een kyk gegee het en bloot gesê het, Kák! Hierdie is ‘n normale 40-jarige rug.  Hy het my rug bekyk, gesê lê op jou sy, buig so, hy het my lyf diekant toe en daaikant toe gedraai, en gereken na 5 sessies behoort alle pyn te verdwyn. Na die tweede sessie was ek so reg soos ‘n roer, en het net vir die derde een gegaan omdat ek so lekker massering daarby gescore het.

Ten spyte van al my klagtes, het ek nooit weer rugpyn van ‘n minuut oud gehad nie. Tot verlede week. Toe vat die knyptang vas. My kolletjie waar die knyptang vat sit so langs my stuitjie. Die volgende dag toe trek die tang die draad vas wat so in my boud in loop, en toe begin my heuppotjies trek. Van die skeefloop word eers die een, toe die ander knie seer. En ek het werk, fisieke werk. So float ek toe maar vir ‘n paar dae op Ibuprofen (die groen Smarties) totdat vriendin Riana van my rug hoor. Nou sy weet van rûe en heupe. Sy het my op haar terapiebed laat lê, my bene efens geknak en saggies diekant toe en daaikant toe gedruk, en daar glip die sondebok toe reg. Sy laat jou ook staan, hou saggies op elke werwel en jy draai jou nek, beweeg jou arms op ‘n sekere manier en swaai jou bene. En jy stap daar uit met alles in plek, jou alignment weer ingestel! Sonder ingryping, sonder pyn, net met sagte druk en die regte beweging.

Welkom terug in Kleinmond, Riana!

Advertisements