Sleutelwoorde

Faan se trein het dwarsdeur my hart gestoom, voordat dit my te pletter gery het.

Hierdie was vir my die beste Afrikaanse fliek ooit. Die heel beste. Beter as Die Wonderwerker en Verraaiers. Selfs beter as baie internasionale films wat ek al gesien het. Die spel was sonder uitsondering briljant, en dit is ‘n meesterhand wat dit vervaardig het. Daar is net soveel menswees in, soveel subtiele (en ongelukkig dikwels minder subtiele) aspekte van menslike sterktes en swakhede, goedheid en gebreke in die fliek.

Ek maak net enkele opmerkings (Geen spoilers, lees maar aan) om myself later te herinner waarom ek dit so geniet het. Oukei, geniet is seker nie die regte term nie, waarom dit my so aangegryp het. As jy belangstel om te sien hoe die mens in al sy fasette uitgebeeld word, gaan kyk die fliek.

  • Hierdie is jou beste kans om jou vooroordeel teenoor ‘n akteur, gegrond op vorige rolle, opsy te skuif.
  • Die mens se weerstand teen verandering en vooruitgang strem jouself uiteindelik.
  • Vooroordeel teenoor verstandelik gestremdes word baie goed uitgebeeld.
  • Kinders se wreedheid en vermoë om te lieg.
  • Terwyl ‘n biddag vir reën gehou word, is daar ook iemand wat bid téén reën. Wie se gebede moet nou verhoor word?
  • Ouers was maar nog altyd blind vir hulle eie kinders se foute.
  • Kleindorpse respek op die platteland vir die dominie en dokter. Ongeag. Ek het die skoolhoof gemis!
  • The games people play, elkeen om sy eie agenda te bevorder. Ook om gewetes af te koop, en guns te verkry.
  • Mense verloën mekaar links en regs, elkeen om sy eie saak te versterk.
  • Gierigheid verskeur byna die gemeenskap, maar liefde en aanvaarding bring hulle weer tot besinning.
  • Satanisme is in alledaagse voorwerpe te sien! Tekens van die tye… Die Bybel word ook bygehaal oor die eindtye.
  • Net soos in PG du Plessis se Koöpersiestories, het die ‘dorp’ baie mag oor ander se lewe.
  • Die mens kan so goedgesind teenoor ‘n kwessie wees soos jy wil, totdat aan jou eie lyf raak. (Sersant, en sy dogter Sus)
  • Die belangrikheid van onvoorwaardelike aanvaarding.
  • Deur ‘n ‘kind’ se onskuld word aan ons openbaar wie ons werklik is.
  • Die gevaar van verstandelik gestremde jong mans in gemeenskappe wat nie hulle seksuele impulse kan verstaan of beheer nie.
  • Die mooi heartrock langs die graf. Is dit daar geplaas, of toevallig? So vuisgrootte heartrock.
  • Elke akteur was briljant. Absoluut briljant.
  • ‘n Nota wat lyk soos: Ongediense uil (ek het notas in die donker in die fliek gemaak)

Daar was wel ‘n paar goedjies wat my gepla het:

  • Twee volmane te veel. Fliekmakers, hoor nou mooi, dis nié elke derde aand volmaan nié.
  • Faan was te cheeky met sy pa, en ook teenoor sy pa se God. Daardie jare sou hulle hom pers en blou geslaan het as hy so praat. Bietjie ongeloofwaardig.
  • As ‘n discerning fliekganger, voel ek dit was dalk bietjie oorspeel, bietjie blatant. Moontlik omdat dit vir die verhoog geskryf is?

Doen moeite, gaan kyk die fliek. Dit gaan nie dieselfde op ‘n DVD wees nie. Willie Esterhuyzen verdien ‘n Oscar vir beste akteur vir hierdie een.

Huise wat ek so in die ry deur die voorruit afgeneem het by Wakkerstroom, waar Faan se trein geskiet is.

Huise wat ek so in die ry deur die voorruit afgeneem het by Klaarstroom, waar Faan se trein geskiet is.

Advertisements