Dis darem ‘n goeie ding dat mens nie is wat ander mense dink jy is nie.

My leftie-vriende dink ek is regserig, en my meer polities-konserwatiewe vriende dink ek is ‘n kommunis of iets. My Ateïs-vriende dink ek is ‘n Christen, en my Christen-vriende dink ek is ‘n Ateïs. Van die ander dink ek glo aan snaakse dywelse goed.

My ses-jarige kleindogter  kyk my een dag so toe ek aantrek en sê met so skuins koppie: Ouma, jy lyk so snááks met jou skirt so hoog opgetrek. Mens dra dit só … En sy gee my romp so pluk dat dit laag op my heupe hang soos wat sy haar broeke oor haar benerige heupies dra. Ons alien-kleinseun van 20 dink weer sy granny is coolstes omdat sy van allerhande goed weet soos manga’s en meditasie en reïnkarnasie.

Een van my gerekende Facebook vriende sê: “Jy is ‘n vreemde mengsel van aardse realisme sowel as gevoeligheid vir misterie en verwondering.” Dankie. Dis ‘n baie groot kompliment as iemand iets van my siel verstaan.

Ek is glo boring. My vriende sê so. Ek kan net een glas wyn drink en ek is deesdae bang vir die stad. Veral om te bestuur.

Dan is ek nie te kort nie, nie te lank nie, nie te maer nie, nie te vet nie, nie te mooi nie, nie so lelik dat kinders skrik nie. Nie te ryk nie, nie te arm nie, net sodat ons genoeg van alles het. Maar hard moet werk. Nie te dom nie, maar nie te slim nie, ek moes baie hard leer om my paar papiere met rooi stamps op te kry. Dan is ek sportief met lekker muscles, maar blink in geen sportsoort uit nie. Te lomp. Ek wen darem elke Scrabble game wat ek speel.

Dit klink na kontraste, maar dit maak van my ‘n gebalanseerde wese. Boring. Maar net reg. Vir my. En so kan ek my eie opinie oor dinge vorm.

Most people are other people.  Their thoughts are someone else’s opinions, their lives a mimicry, their passions a quotation.  Oscar Wilde, De Profundis, 1905

Hierdie stelling slaan my op my maag, want Oscar Wilde kon netsowel hierdie stelling vandag gemaak het.

“The fact that an opinion has been widely held is no evidence whatever that it is not utterly absurd; indeed in view of the silliness of the majority of mankind, a widely spread belief is more likely to be foolish than sensible.” 
― Bertrand Russell, Marriage and Morals

Advertisements