Sleutelwoorde

Vryheidsdag het eintlik ‘n politieke konnotasie, maar vir my beteken Vryheid ook die vryheid om myself te wees, met my eie oortuigings en opinies. Vryheid is vir my baie dinge, ook vry om te kies hoe ek my werk wil doen, en wanneer.

Mense kyk na mysee foto’s en wonder of ons nie werk nie. Daar is mos ‘n snaakse persepsie as jy by die see bly is jy heeltyd op vakansie. Glo my maar, my baas is ‘n kwaai vrou wat baie ure vereis, dikwels sonder etenstyd. Die waarheid is natuurlik dat ons werk as ander af het en tyd kan afneem wanneer dit ons pas. Dit klink idillies, maar ek dink as ek begin tel, het ek meer dae gewerk hierdie jaar as die meeste mense. Vakansietye werk ons baie hard. Hierdie hele April het ons aanmekaar twee- en driedagbesprekings. Ons maak skoon en was en styk en begin more weer van voor af. Tussenin verwerk en verkoop ek e-boeke, wat dikwels my werkure tot so 22:00 of verby vat. Ja, ek slaap tot ek self wakker word, maar ek werk ook tot ek vaak is. Dis vir my vryheid!

Sit ook maar dadelik die romantiese prentjie wat mense het van ‘n Gastehuis-by-die-see uit jou kop. Die werklikheid van storte skoonhou en beddegoed was en stryk (en die gebou skoon en heel en bowenal Oranje hou) lyk heel anders! Moenie my verkeerd verstaan nie, ek kla nie oor werk wat baie ander as benede hulle sien nie. Mense is dikwels geskok omdat ons self skoonmaak en was en stryk. Dit is vir my glad nie minderwaardige werk nie, dis inteendeel vir my bevredigend om te sien hoe skoon en ordelik die woonstelle is, en hoe mooi ‘n stapel vars gestrykte beddegoed lyk. Deel van die lekker is die vryheid daarvan, ons het altyd ‘n keuse om ‘n bespreking te neem of nie. Binne perke het ons baie vryheid, maar hierdie vryheid het teen ‘n prys gekom.

Vir my kinders het ek altyd die volgende gepreek:

  • Leer asseblief – Leer bleddie hard
  • Werk asseblief – Werk jou alie af
  • Beplan asseblief – Beplan deeglik
  • Spaar asseblief – Spaar alles wat jy kan
  • En bowenal – Wéét wat jy wil hê

Hóór nou vandag vir julle tannie MaanKind. Doen hierdie dinge, want dis die enigste manier wat jy eendag vryheid gaan smaak om te kan doen net wat jy wil. Waar jy wil. En saam met wie jy wil.

Wees intussen lief vir mekaar. Verdra en verduur mekaar. Want elke mens dink hy is reg. Gun dalk net die ander party met ander sieninge, diesefde vryheid? Wat is Vryheidsdag dan as ons mekaar nie eers die vryheid van ‘n opinie kan gun nie.

For to be free is not merely to cast off one’s chains, but to live in a way that respects and enhances the freedom of others.
Nelson Mandela

 

Advertisements