Sleutelwoorde

, ,

Die meeste mense sê en dink hulle is lief vir hulle lewensmaat. Maar om werklik ‘n maat te kan hê vir wie jy diep, onvoorwaardelike liefde het? Daardie sielsmaat aan wie jy met hart en siel en liggaam verknog is. Lyfliefde. Dis werklik min mense beskore. Meeste van ons is lief met ons koppe. Ons ken nie die verskil nie, want ons het goeie lewens, vol liefde en begrip. Maar as jy daardie sielsliefde sien, herken jy dit. En breek jou hart saam met iemand wat sy sielsmaat verloor.

Ek glo aan sielsgroepe, primêre en sekondêre groepe, soos beskryf word in Michael Newton se Journey of Souls. Ek glo elke mens het ‘n Primêre Sielsmaat, maar dat dit is nie noodwendig jou lewensmaat is nie, en ook nie noodwendig saam in hierdie inkarnasie nie. Maar soms is daar twee mense wat mekaar herken wanneer hulle paaie kruis, en is hulle onlosmaaklik verbind met hart, lyf en siel.

Só ‘n sielsliefde het ek herken in Bertus Osbloed van Niekerk, en Selma Albasini. Die dag voor haar fatale operasie, het hy die volgende gedig vir haar geskryf:

Selma walks through the clouds
With a circus mind that’s running round
Butterflies and zebras
And moonbeams and fairy tales
That’s all she ever thinks about
Riding with the wind.
When I’m sad, she comes to me
With a thousand smiles, she gives to me free
It’s alright she says it’s alright
Take anything you want from me,
Anything.

Fly on Little Wing.

Dit klink half arrogrant om te sê, maar toe ek hierdie gelees het, het ek geweet Bertus gaan sy vriende baie nodig hê. Die aand van die operasie terwyl hy wag vir nuus, na meer as twaalf uur in teater, kon ek nie slaap nie, daardie laaste sin het by my gespook. Fly on Little Wing. Skielik het dit my getref, as dit op ‘n sielsvlak so moes wees dat die diep wete daar was, dan is dit goed en reg so. Dis immers wat ek glo, dat ons lewenspad vooraf gekontrakteer is. Daarna was ek rustig, maar my hart het gebreek vir die nag wat ek geweet het Bertus sou deurmaak.

Ons vier die Lewe en die Liefde

Ons vier die Lewe en die Liefde

Gisteraand het Bertus al sy vriende genooi om skemertyd na sy huis te kom, en in die tuin afskeid te neem van Selma. Dié wat dit nie kon maak nie, is gevra om by die huis, of waar hulle teen skemertyd  is, aan haar te dink. Ons het by vriende geëet, en my liewe vriendin Petra wat my hart en my siel ken, het saam met my ‘n glasie geklink op Selma, en op Die Liefde en die Lewe. Met hierdie blomtak eer ons Selma se lewe, en die Liefde tussen twee mense, wat ‘n suiwer inspirasie is vir almal wie se lewe hulle aanraak. Selfs in sy rouproses vind ek ontsaglike inspirasie, en sien hoeveel harte hy raak. Bertus, dis weer skemer, dis ‘n nuwe dag, en ek klink een op jou.

En toe ek jou verloor het, het ek – doelbewus –
jou graf loop grou waar alles wat verby is rus.
Maar soggens kleef daar klam, rooi grond aan elke hand
en voel ek onder elke nael ‘n splinter van jou kis.
– Koos du Plessis

Advertisements