Sleutelwoorde

, ,

Reis is koning, binnelands en buitelands. Dis lekker om te kan vergelyk hoe ons land lyk met die ander. Dis lekker om nuwe gewoontes, kulture en kosse te leer ken. Ons onlangse reis deur California, Nevada en Utah was ‘n absolute voorreg, reis rek my grense en leer my waar my plekkie in die groter prentjie is. Daar is so baie dinge wat my opgeval het, wat anders is as wat mens dink.

Ons was by die volgende lughawens: Kaapstad, Heathrow, San Francisco, Las Vegas, Salt Lake City en Oakland. Van almal is Kaapstad Tops! Paaie waar ons meer as 1000 myl gery het deur California, Nevada en Utah  is skoon en heel en nêrens was enige padwoede te bespeur nie! Mense ry geduldig en gehoorsaam die padreëls. Nie een ongeluk bespeur nie.

Ek bespeur nêrens anders as in Suid-Afrika daardie onderliggende anger in mense nie. Is ons Suid-Afrikaners deur werklike en gewaande vrees vir ons veiligheid en oorlewing wat heeltyd onder die oppervlak sit, omskep in ‘n siniese spul vol oordeel, persepsies en nydigheid?

Dit tref my nou toe ek deur Facebook blaai waarom ek so gemaklik voel in Amerika – daar is ‘n totale gebrek aan hierdie neiging van mense om met ander te spot. Hulle gun daar die son oor ander. Respekteer mekaar. Waarom is Suid-Afrikaners so lief om die spot met ander te dryf? Dan noem hulle dit ewe intellektueel parodie of satire. Ek vermoed noudat ons nie meer die Uitverkore Volk is nie, is ons Uitverkore Splintergroepe. En nie een sien die son oor n ander nie. Hoekom is almal so hatig op ander wat nie soos hulselfself dink nie? Van wanneer af is dit oukei om ander te spot en belaglik te maak? Dis blerriewil boelie.

Eendag as my skip kom, gaan ek ‘n son koop wat groot genoeg is om so wyd te skyn dat almal ‘n plekkie kan kry waar hulle kan skaduwee maak.

Nog iets wat opvallend was – die waardigheid waarmee die mense die geringste van werk doen. Met trots, want niks, maar niks wat jy doen is ondergeskik aan enige iets wat iemand anders doen nie. Doen jou werk met waardigheid, wat jy ook al doen. Werk hard. Al dink jy ander kyk neer daarop, die probleem is die ou wat uit sy hoogte kyk, dat hy nie meer die mens agter die besem raaksien nie. Ek weet hoe dit is, mense is gedurig verstom dat ons self ons gastehuis skoonmaak en ek self was en stryk. Hulle dink selfs ek maak ‘n grap. Waarom tog?

Persepsies en vooropgesteldfe idees is ‘n vreeslike ding. Die enigste loud mense oral waar ons was, was óns. Wáár kom die ding vandaan dat Amerikaners loud is? Hulle praat sag en beleefd.

‘n Groot wanpersepsie is dat Amerikaners van gemorskos leef. Ja, jy kan seker by die M’e eet as jy wil, maar ek vind restaurantkos van die hoogste gehalte. So ook die goed in supermarkte. Vrugte en groente is vars en lekker. Sout en asyn tjippies word inderdaad met sout en gekristellariseerde asyn gegeur, nie met sewe soorte suur soos by ons nie. Ek lees al die labels en is verstom oor hoeveel minder ‘goeters’ in hulle kos is. Steak is murgsag en van die hoogste gehalte. Restaurantkos is heerlik en oral ook as wegneem beskikbaar. Porsies is baie groot maar ons het nou geleer om slimmer te bestel. As jy gemors wil eet, kan jy dit enige plek doen. Ons kan gerus maar van ons moral highgrounds afklim oor Die Amerikaners en hulle kos. Die grootste wanpersepsie – Mormone = veelwywers. Ons het ‘n hele klomp Mormone ontmoet, en een aand ook by ‘n Hawaiise gesin geëet wat die Latter Day Saints geloof aanhang. Dis wat die Mormone  hulleself noem, LDS. En dié wat ons ontmoet het, is lieflike, sagte mense wat gesinswaardes en goeie dade nastreef. Ons het lekker gelag vir die groepies van 3 of 4 huise op plase in Utah se landelike deel, as daar een groot huis en twee of drie kleiner huise is, is dit waar die mense met poligamiese lewenswyses woon. (Dit is fundamentalistiese splintergroepe) As ons reis,  beleef ons so baie. Alles is vreemd. Tog is alles op ‘n manier so bekend dat mens baie klein voel as jy dink aan jou eie spikkeltjie in die grote Universe. Hoe onbenullig jyself eintlik is in die groter prentjie. Daar is wêrelde buite jouself wat aanhou draai, terwyl ons elkeen op ons eie klein eilandjie bly woon. ‘n Paar klein goedjies wat ek universeel opgelet het, van Kaapstad tot London tot San Francisco

  • Mans dra ‘n pak (selfs aandpak) se baadjie saam met jeans
  • Meeste vroue dra gemaklike klere
  • Haarstyle is oor die algemeen slordig
  • Levi’s het nou zippe pleks van knope
  • Meisies dra vals wimpers
  • Tatoes, Tatoes, Tatoes
  • Min piercings
  • Ek is nie meer so fiks as wat ek gehoop het nie

“Why do you go away? So that you can come back. So that you can see the place you came from with new eyes and extra colors. And the people there see you differently, too. Coming back to where you started is not the same as never leaving.” ― Terry Pratchett, A Hat Full of Sky

Advertisements