Sleutelwoorde

,

Met die onlangse viering van my ma se 80e verjaarsdag, het van die kleinkinders die mikrofoon opgeneem en vertel van die vakansies wat hulle by ouma deurgebring het. Van die bergklim, die baie vrugtebome, die visvang, swem in die dam en sommer net pieknieks in die tuin. Party van die stories het ek maar met ‘n geligte wenkbrou aangehoor, want van die dinge was ons as kinders nie beskore nie…

Ons self het ‘n ouma in die bosveld gehad. Daar het ons weer dinge aangevang waarvan my ouers hopelik nooit te hore gekom het nie, maar dit was ook sonder ouma se toestemming. Een vakansie onthou ek baie duidelik. My ma het ‘n laatlam kleinboet gehad wat net twee jaar ouer was as ek, en in dieselfde standerd (ek was mos een van daardies). Ons dag het vroeg begin, want oupa Winnertz het met sy suiwer sopraanstem elke oggend ‘n Psalm deur die huis laat weergalm. Dan het my ‘oom’ Johann vir Topsie die foksie op my bed kom gooi, gaan koffie maak en teruggekom met ‘n blik vol van ouma se stroopkoekies. Dit het ons genoeg energie gegee om voor brekfis die beeste rivier toe te jaag. Die Limpopo wat oupa se plaas van Botswana geskei het, het eilande met niemandsland gevorm waar die beeste gewei het. Op pad het ons voëltjies geskiet en by die huis kom braai.

Die rivier het gesorg vir baie pret. Na goeie reëns was daar sterk systrome waarin ons geswem het, krokodilgate te spyt. Groot, plat  klipplate was heerlike speelplek, met lieflike tieroog spoelklippies wat ons in botteltjies water gehou het. Ons het ook een vakansie met ‘n tuisgemaakte kano gemaak van ‘n uitgeholde boomstomp, rivier-af gevaar, die kano weer uitgesleep en neef Herkie het dit dan met die lorrietjie met ‘n jaagtog deur die bosse weer stroomop gery. (Goeie gedagtes op die seewind, neef Herkie is baie ernstig siek in ICU – moeilik om aan die jong neefs te dink as middeljarige ooms)

Een besondere vakansie was ons in ongeveer standerd agt, en my ma se kleinsus ‘n baie belangrike pasgekwalifiseerde wiskunde onderwyseres. Sy het geen kans laat verbygaan om ons te dreig dat sy ons by oupa sou verkla nie, en vir die geringste misstap is ons in die kamer toegemaak om wiskunde te leer (nie een van ons twee se beste vak nie). Wat ‘n vreugde! Uit kom die pakkie skelm sigarette en die tandepasta wat ons daarna geëet het… Nou klink dit seker na niks, maar vir ons onskuldige plaaskinders wat dit baie gewaagd.

Aan al hierdie goed dink ek, terwyl my enigste kleinkind vir die eerste keer alleen vir die vakansie by ouma en oupa by die see kom kuier. Oral sien jy oumas en oupas met kleinkinders aan die hand, en almal knik erkennend na mekaar – Jy ook?  Sy is maar in Graad 1, en die eerste keer wat sy ‘n volle drie weke alleen weg van die huis is. Ek probeer regtig hard om goedjies te doen met haar wat dalk eendag iets is waarna sy kan terugkyk en sê: Ek was vakansies by my ouma by die see, en ons het…

Elke kind moet ‘n ouma hê, waar hy vakansies herinneringe kan gaan bymekaarmaak.

Advertisements