Sleutelwoorde

, , , ,

Iemand het vandag iets gesê wat my teruggeneem het na ons heel eerste oorsese reis, in 1999. Skoon in die nostalgie in. Ons oudste dogter, Anria, het daardie tyd in Israel gewoon, en ons het gaan kuier. Daardie tyd was Israel ‘n wonderlike plek, en ek glo dit gaan weer wees. Ek het baie spesiale herinneringe aan Israel, maar later meer hieroor as die onderwerp nie meer so plofbaar is nie.

Nietemin het ons ook van daar af `n draai in Griekeland gaan maak. Soos dit enige goeie toeris in Athene betaam, het ons sommer al op dag een die Acropolis besoek. Op pad uit, stop so jong meisiekindjie ons `n pamflet in die hand, en tussen haar Grieks en my handgebare figure ons toe later uit daar is die aand `n opera aan die gang, in die antieke amfiteater in die Acropolis. Enige poging by die hotel om die pamflet te vertaal was vrugteloos, al wat ons kon uitvind was die woord Verdi, en dat kaartjies by die ingang te koop was. Ek het natuurlik gehoop dat dit Nabucco was. Eers veel later het ons besef dat vir die hotelpersoneel opera bloot sinoniem met Verdi was.

Nietemin het ons die aand vroeg opgedaag, en lekker sitplekke gekry. Dit was een van die verstommendste ervarings van my lewe. Hoewel in die buitelug, is die akoestiek beter as menige sale waar ek al was. Die antieke Grieke het beslis iets geweet van ontwerpkuns! Ons kon sien en ons kon hoor, hoewel ons nie geweet het WAT presies ons gehoor het nie. Die opera was in Grieks, en nie `n enkele ding het bekend geklink nie, maar ons kon tog min of meer volg wat gebeur. Die gehoor was absoluut tjoepstil, sowat van gedissiplineerdheid by enige optrede het ek nog nie gesien nie.

Wel, hierdie het my so ongeveer drie ure geneem om te skryf, want ek is tussenin eers deur foto-albums, gou een foto ingescan, die Griekse alfabet probeer Google om die toegangskaartjie te vertaal. (Nee ek weet nou nog nie!)

Ons het relatief min foto’s geneem, want digitale  kameras het nog nie bestaan nie. Gelukkig is die ervarings in my hart, die foto’s is net ‘n gawe herinnering aan ‘n wonderlike ervaring, wat my laat besef het hoe klein ons ou kringetjie eintlik is. Reis verbreed jou uitkyk, dit laat jou besef hoe arrogant ons eintlik hier aan die suidpunt van Afrika lewe. Daar is soveel méér as waarvan ons weet, soveel ander perspektiewe.

“The world is a book and those who do not travel read only one page.”
― Augustine of Hippo

 

 

Advertisements