Sleutelwoorde

, , ,

Nee! Daar is geen manier wat ek ‘vir my land’ sal sterf nie, maar ek sal wel vir jóú sterf. Dit hang net af van ons lewenspaadjies wat ons gekies het. Dan ook, sal ek meer as een keer vir jou sterf, in elk geval totdat óf ek, óf jy, ons lewensles geleer het, soos wat ons ooreengekom het.

Maar indien jy nie glo aan reïnkarnasie nie, is hierdie stelling steeds relevant, omdat meeste van ons meer as een keer sterf in hierdie lewe. Soos wat Sylvia Browne praat van Exit Points, praat ander van NDE’s (Near Death Experiences). Soms weet jy nie eers jy het dit beleef nie, maar ‘n klein keuse wat jy iewers maak, het dalk verhoed dat jy sterf. Ek het al drie bewuste NDE’s gehad, waar ek tydens twee daarvan ook bewus was dat ek van bo af na my eie liggaam kyk.

Ek het waarskynlik nou ‘n klomp mense verloor toe ek die R-woord genoem het, maar ek vind dat mense moeilik oor die Dood gesels. Dit is só ‘n integrale deel van ons lewe, elke enkele een van ons gaan sterf. Ons gaan dood. Almal. Vroeër of later. Ek en MaanMan het elk ‘n 50% kans om gewedelaat te word, en 50% is ‘n gróót kans. Waarom dan nie daaroor dink of praat nie?

Om te treur oor ‘n geliefde ouer, lewensmaat of kind is so natuurlik soos die lewe self. Dis noodsaaklik, anders gaan jy nie die proses verwerk nie. Die smart van ‘n ouer wat ‘n kind verloor moet onbeskryflik wees, maar tog is dit deel van die seer van menswees. Mense gaan deur wrede oorloë. Oorlog, opstande, moorde en siektes is so oud soos die mensdom self. Dit het nog altyd gebeur. Ek het eenmaal gelees ons Westerlinge het die dood vertraumatiseer die afgelope paar dekades. Ek kan nie saampraat nie, want ek leef maar nog net ‘n handvol  dekades, en dit is hoe ek dit ken.

Iere hou ‘n Wake, Jode sit Shiva. En dan gaan hulle aan met hulle lewe, want hulle gun hulself die tyd om te treur. Maar wat doen ons? Ons vermy die onderwerp, en as iemand te sterwe kom, dan is dit traumaties. Selfs in die dood vermy ons die liggaam, die lyk, die oorskot. Ons ontnaam selfs die persoon, en praat van die oorledene. Wat wel verander het, is dat mense meer openbaar treur. Facebook het alles verander. Moontlik is dit ‘n goeie ding, dit gee mense weer die geleentheid om openlik te kan treur, en sodoende die rouproses te versnel. Dit gee egter ook mense die geleentheid om te ‘treur’ oor bekende akteurs en sangers met wie hulle soms nie eers bekend is nie.

Is ek bang vir die dood? Nee, ek sien uit daarna. Want ek weet waar ek heengaan vir ‘n ruk, voordat ek in nuwe vorm gebore word om nuwe dinge te kom ervaar. In ‘n nuwe lewe. Om doodeerlik te wees, ek sien baie uit daarna om Lig te gaan Lewe in ‘n ander dimensie. Die ou grappie van die dominee wat vra, wie wil almal Hemel toe gaan, toe steek almal hande op. Toe hy vra, wie wil almal nóú gaan, was daar net ‘n geskokte stilte. Sou so ‘n vraag vandag vir my gevra word, sal ek my hand opsteek. Maar verstaan my mooi, dis nie omdat ek wil weghardloop van ‘n slegte lewe nie, inteendeel – my lewe is perfek. Alles is goed en reg en in plek, presies soos ek daarvan gedroom het as kind en jong volwassene. Daarom sal my tyd om te gaan ook perfek wees.

Ons kan dit vermy soos ons wil, ons kan dit hanteer soos ons wil, maar een ding is seker: Ons sal lewe, ons sal sterwe…

Life asked Death: Why do people love me, but hate you?
Death replied: Because you are a beautiful lie, and I’m a painful truth.
– Onbekend

I’m not afraid of death; I just don’t want to be there when it happens.
Woody Allen

When I Shall Die – by Anna

When I shall die,
I will do it myself.
Nobody shall do it for me.
When I am redy,
I shall say,
‘Fin, stand me up’,
and I shall look
and lagh merry.
If I fall down,
I shall be dead.

This poem is from the last page of Mister God, This Is Anna, by Fynn.

PS: Vergewe asseblief enige veralgemenings, hierdie is net gedagtes wat opgekom het wat gedeel wou word.

(meer oor wat ek glo, hier te lees: https://maankind.wordpress.com/2014/02/25/wat-ek-glo/

 

 

 

Advertisements