Op hierdie moment, twaalf jaar gelede, het ek tussen Kroonstad en Bloemfontein gery, stoksielalleen, met my volgepakkte strykysterkarretjie. John was ‘n ent agter my, in sy volgepakte bakkie, met die twee katte. Op pad na ons nuwe lewe toe.

Almal wat deel is van die jaarlikse sirkus van Kersfees in die kleinhandelsbedryf, sal weet waarvan ek praat as ek sê as besigheidseienaar, voel jy teen Januarie of jy nie meer uit die bed wil klim in die oggend nie, wat nog te sê om jou liggaam moeisaam deur die dag te sleep. Ek het een goeie dag net opgestaan en twee vliegkaartjies bespreek Kaap toe vir die naweek, sonder enige planne van hoe en waarheen. My man wou nog prakties wees en ‘n ordentlike vakansie reël, maar ek het bloot gesê die kaartjies is gekoop, alles is gereël, ons vlieg en klaar.

Van die lughawe af het ons kuslangs gery met Clarence Drive, deur Bettiesbaai. Op daardie stadium het nie een van ons daardie gedeelte van die Wes-Kaap geken nie.

In Kleinmond aangekom, het ek my man gevra om bietjie deur die woongebied te ry, dit het na ‘n lekker dorpie gevoel, so tussen die berg en die see. Ek onthou die gevoel in my hart toe ek vir hom gesê het, “hier sal ons lekker kan fietsry, kom ons kom bly hier.” Deur die genade het hy, inskiklike mens wat hy is, dadelik ingewillig, maar bloot omdat hy soos gewoonlik nie mooi geluister het nie. Hy het gedink die bedoeling is dat ons die aand in Kleinmond oorbly in plaas van verder ry soos beplan.

Nadat ons blyplek vir die aand gekry het, wou ek opsluit by ‘n eiendomsagent ‘n draai maak om te kyk na huispryse. Ons het by die naaste eiendomsagent na ‘n muur vol foto’s gekyk, en my man het sy vinger spontaan op een foto gedruk en gesê hy hou van daardie een. Die agent wou nie byt aan ons navrae nie en gereken dat die plek te verwaarloos is en dat hy ons beter huise in dieselfde prysklas kon wys. Kleinmond is egter ‘n klein dorpie en ons het die huis self gaan soek. ‘n Teensinnige vrou het ons storie aangehoor en ons binnegelaat om net baie vlugtig die huis te bekyk.

Ons was onmiddellik albei verlief op die verwaarloosde huis en het teruggery na die eiendomsagent en ‘n aanbod om te koop gaan teken, onderhewig aan die verkoop van ons besigheid binne sestig dae. Twee dae later het ons teruggevlieg Johannesburg toe en die besigheid die volgende oggend voor werk verkoop. Net so. Alles het soos ‘n legkaart in plek geskuif.

So het ons status van sakemense in die stad oornag verander na vroeg-afgetree-by-die-see, by ‘n plek wat ons hoegenaamd nie geken het nie. Intussen het ons natuurlik ook ‘n lekker besigheid opgebou, wat baie goed vir ons werk. My ander passie het ook gestalte gekry hier: Boekemakranka.

Dis nou twaalf jaar later en ons kan in alle eerlikheid sê ons het huis toe gekom. Huis is waar die hart is. Hart is waar die huis is.

DSC06043

 

Advertisements