Wat het Moeder Teresa, Madiba, Prinses Diana, Hansie, Joost en Oscar in gemeen?

Hulle het óns in gemeen. Hulle het ons behoefte aan helde in gemeen. Ook ons behoefte om siek en lam diertjies aan te neem en te troetel. Ons tropinstink. Dan ook ongelukkig ons donker kant, wat oordeel en jag maak op die swakkes.

Selde kry jy iemand wat neutraal staan teenoor een van ons helde. Dis óf ‘n hengse verering, óf daar word snedig verwys na die persoon se swakhede. Daar is massas mense wat elke nuusbrokkie opslurp oor ‘n so ‘n persoon, plakboeke maak, elke boek en biografie koop oor die persoon. In die proses verhef ons hulle tot ikone en weier om enige menslike swakhede as deel van hulle menswees te aanvaar.

Nie een van hierdie mense het hulself verheerlik nie, dit is ons. Koerante en tydskrifte moet verkoop, en daarom speel hulle in op hierdie menslike behoeftes en eienskappe van ons. Ons koop, slurp op, Tweet, en kliek op Share. So sneeubal dinge en word die idee van ‘n persoon dan groter as die persoon self. Ontmens ons hulle nie in die proses nie?

Menslike foute en swakhede word toegesmeer of bloot ontken. Ons held kan tog nie ook menslik wees nie?

Melinda Ferguson skryf saam met Patricia Taylor ‘n boek wat die verhouding van ‘n familie met ‘n held uitspel. Enersyds het die familie toegelaat (en aangemoedig) dat hulle matriekdogter blootgestel word aan emosionele mishandeling en vir 18 maande in die verhouding bly. Indien die ellelange beskrywings van die held se swak gedrag en die vernederende situasies waaraan die jong meisie blootgestel is waar is, waarom het hulle dit aangemoedig? Omdat hy ‘n internasionale held is? Indien dit nie waar is nie, waarom sou hulle dit nou beskryf?

Lees hier die eerste 10% gratis van Melinda Ferguson se e-boek op Amazon: Oscar: An Accident Waiting to Happen

Bestel die boek by Kalahari.

(Net as julle regtig belangstel in die juicy bits, wat waar kan wees, of nie. Andersins stel ek voor julle lees eerder Ilse Salzwedel se boek: Van Sprokie Tot Tragedie in Die Kollig.

Waarom glo ons niks sleg van iemand as hy/sy eers ikoniese status bereik het nie? Dit is ook geen nuwe ding nie. Amanda Botha het in 2011 met Kleinmond Leeskring kom gesels oor die lewe van sir Laurens van der Post (1906 – 1996). Sy het baie nou saam met Van der Post gewerk vir ʼn aantal jare en is by uitstek die kenner in ons land van sy werk en sy lewe.

ʼn Groot verrassing was die gesprek oor die onthullings wat gemaak is in Van der Post se biografie deur JDF Jones, Storyteller: The Many Lives of Laurens van der Post (2001). Bewerings van plagiaat, leuens en bedrog word gemaak. ‘n Ongehude kind van ‘n 14-jarige meisie het na vore gekom. Sy internasionale roem is klaarblyklik geskoei op ʼn fiktiewe lewe wat hy geskep het, wat slegs in sy gedagtes waar was. Nietemin was hy vertroueling, raadgewer en vriend van oa Margaret Thatcher, Prins Charles, en Carl Gustav Jung. Hoe is dit moontlik dat hy soveel mense kon mislei? Hoe slaag hy daarin dat mense soos die Oppenheimers en die Rupert op ‘n stadium gehelp het om sy rojale lewensstyl te onderhou?  Kliek HIER om ‘n baie goeie artikel daaroor te gaan lees.

“Nonetheless, Mr. Jones writes, there were apparently some who doubted van der Post even when he was alive. 

Mr. Jones says that when a doctor who knew him was asked the cause of his death, the doctor replied, “He was weary of sustaining so many lies.” “

Amanda Botha het hierdie beweringe bevestig, sy was eerstehands betrokke by sekere van die onthullings. Tóg word hy steeds gesien as ikoon.

Het ons helde voete, of harte van klei?

Stars copy

Great heroes need great sorrows and burdens, or half their greatness goes unnoticed. It is all part of the fairy tale.”― Peter S. Beagle, The Last Unicorn

Advertisements