Sleutelwoorde

Toe ons in 2002 in Kleinmond kom woon het, was die plaaslike Leeskring die eerste organisasie waarby ek aangesluit het. Oor die jare het dit my baie plesier verskaf, maar ek vind myself dat ek deesdae langtand begin kou aan die Leeskring. Ek sukkel al meer as ‘n jaar om uit te werk waarom dit so is, lees is tog my enigste passie wat al meer as 5 dekades oud is en steeds hou! Ek hóú van boeke, ek hóú van lees.

Wat het verander? Die toeganklikheid van die tegnologie speel sekerlik ‘n rol. Daardie jare was ek die enigste lid met toegang tot internet, en die persoon wat die bespreking gelei het, het voorwaar ’n taak op hande gehad, om die standaard wat deur voriges gestel is, te handhaaf. Alle koerantuitknipsels van resensies was sorgvuldig bewaar, inligting is aangevra van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN). Intellektuele tannies. Deesdae is alles oor nuwe boeke op die internet, resensies en ook informele gesprekke.

Deesdae is daar ook die Woordfees, Die Franschhoek Literary Festival, en ander kleiner boekfeeste by Greyton, Montagu, Wellington, Philadelphia, en elke dorp tussenin. Daar is skrywersgesprekke en boekbekendstellings te kus en te keur.

Boekklubs het ook oral ontstaan, wat kleiner groepe behels, en ‘n meer informele opset, in pas met die baie meer informele sosiale neigings. Hoewel ons heelwat ‘jong’ lede het, is ek steeds op 58 waarskynlik een van die jongste lede. Te wyte aan die feit dat Kleinmond heelwat afgetrede mense as inwoners het, of is daar ‘n ander rede?

Waarom dan nog Leeskringe? Die hoeveelheid tyd wat mens spandeer om behoorlik voor te berei om ‘n boek te bespreek, weeg nie meer vir my op die plesier wat ek daaruit kry nie, maar miskien is my behoefte aan intellektuele gesprekke oor boeke nie meer so groot nie, met al die lekker gesprekke oor boeke soos bv op hierdie groep, In my Hangmat. Daar is maar ‘n handvol lede wat bereid is om ‘n boek te bespreek, en die bestuur werk bitter hard om ‘n interessante program op te stel en al die reëlings te tref. Gaan kyk gerus by Kleinmond Leeskring se blog na die notas van boeke wat al bespreek is hoeveel werk dit is. Dis harde werk!

Is Leeskringe nog relevant? Of is dit uitgedien?

Kliek hier om ‘n lys te sien van al die topverkopers van Afrikaanse e-boeke op Amazon

“Things change. And friends leave. Life doesn’t stop for anybody.”
― Stephen Chbosky, The Perks of Being a Wallflower

 

Advertisements