Verandering is onafwendbaar en tyd, die mens, die volmaan en die getye, die lewe en die seisoene stap meedoënloos voort. Siklusse kom en gaan, politiek verander, en tegnologie verander ons lewe op skrikwekkende maniere. Boekrakke maak plek vir e-lesers. Elke paar jaar maak mense reg vir nog ‘n wegraping. Alles kom en gaan. Liefde ook. Mense sweer ewige trou en skei terwyl hulle nog aan die troue afbetaal.

Net so verander dinge in ons land. En shit happens. Die Eskom paw-paw het die spreekwoordelike fan gestrike. My ouma was in ‘n konsentrasiekamp in die ABO. My ma was ‘n kind tydens WWII en het grootgeword met die kosskaarstes van die nagevolge daarvan. Wat maak ons geslag so spesiaal dat ons nie kan of wil glo dat shit inderdaad happens nie? As dit nou gehelp het om te kerm daaroor, het ek op my balkon gaan staan en my frustrasies onder die volmaan uitgeskreeu. Maar nou hoor net my maters dit as ek kla, en nie een van hulle is by magte om hulleself te help aan ononderbroke elektrisiteit nie, en allermins kan hulle my help. So ek mompel maar onderlangs vir myself terwyl ek my lysie maak om my lewe makliker te maak terwyl elektrisiteit ‘n probleem is.

As ek kosmaak, maak ek dubbeld, indien daar more elektrisiteit is om kos gaar te kry, lekker, dan hoef ek nie weer te kook nie. My kruidenierskas het blikkies tuna en blikkies groente bygekry.

Ek glo dit self nie, maar ek is meer produktief tydens hierdie beurtkrag, en ek rus ook meer! Ek werk vinnig om alles gedoen te kry wat krag vereis terwyl die knoppies knop en die ligte brand, en dan sit ek bene op en lê lekker en lees terwyl die krag af is.

Bowenal tel ek my seëninge. Dit gaan goed met ons, dit gaan goed met ons kinders. Ek was die laaste tyd baie negatief en ook bang oor ons land se toekoms, maar noudat die stukke paw-paw rondvlieg, het ek skielik nuwe moed gekry. So asof ek wéét dinge gaan nou begin draai. Soveel keer hoor ons dat iemand sê hy moes eers rockbottom slaan voordat hy kon begin regkom. Ek het onlangs gedink met die wêreld wat al hoe vinniger gaan, dinge wat vinniger gebeur, gee ek ons land 5 jaar voordat dinge begin beter gaan, die orde na die chaos, die heropbou na die gemors in die onderwys, gesondheid, opvoeding. Dit lyk my die heropbouproses begin vinniger as wat ek vermoed het. Dit gee my hoop!

HumptyKyk, ons weet ons regering is hopeloos op die oomblik, maar daar is genoeg mense wat genoeg weet om te besef wanneer die bodem begin wankel. Nou skop dinge in plek, en goed gebeur. En Eskom kommunikeer met ons oor die loadshedding, hulle verander die Fases soos nodig, maar hulle hou by die skedule, en hulle maak heel. Hulle plak, daar is ‘n proses in plek. Lees daaroor op hulle webblad.

En wat het my opskrif “Red jou huwelik en red ons land” hiermee te doen? Net mooi niks. Ek wou daaroor skryf, maar wat ek wou en wat ek toe doen, is twee verskillende dinge.

Sit die ligte aan!

Advertisements