Hoe lyk jy vir jouself? Hoe het jy vir jouself gelyk 10 of 20 jaar gelede?

In die sestigerjare was plattelandse kinders se enigste blootstelling maar aan Christelik-Nasionale onderwys, met Johannes Calvyn stewig op elke mens se linkerskouer. Ydelheid is nie aangemoedig nie, en skoonheid sou vergaan, maar deug sou inderdaad bly staan. Daarby was ek ook baie jonk vir my ouderdom en emosioneel nie on par met my maats nie, en het ek maar ‘n swak selfbeeld gehad. Ek was nie danig gewild by die seuns nie, want Dopperkinders dans nie, en ons kon nie die befaamde garagepaarties bywoon nie. My ma en ouma het getroos dat skoonheid van binne kom, en ek was die blind date met die ‘persoonlikheid’. Oor die jare was ek seker nogal ‘n deugsame vrou, die Bybelse koraalvrou het geskitter, deur geleerd te kom, kinders groot te maak, ‘n beroep te beoefen en tussenin al die ou dingetjies te doen wat ‘n goeie vrou vir haar man doen. Natuurlik was MaanMan se beroep belangriker as myne, ons het immers so grootgeword en in werksplekke was dit outomaties aanvaar.

JonkEk was ‘n goeie kind, ‘n goeie vrou. Maar ek was nie móói nie. Niemand het ooit vir my gesê ek is mooi nie, en self het ek glad nie daaraan te dink om te wonder of ek dalk mooi is nie. Ek het net aanvaar dat ek kort en fris is (dis wat almal immers altyd gesê het) en nie juis mooi nie.

Vandag het ‘n baie snaakse ding gebeur. My suster en swaer het deur ou videos gekyk, en hierdie clip waar die waaier my rok a la Marilyn opwaai, met die selfoon geneem. Ek het myself nie herken nie. Ek het gedink dis my mooi, maer jonger suster.

Jonk2As ek deur my ou foto’s blaai, is ek verbaas oor hoe mooi lyf ek gehad het, na twee kinders. Tog het ek gedink ek is vet. My jinne. As ek na hierdie foto kyk, sien ek geen skoonheid nie, maar ek sien ‘n doodgewone jong vrou, wat maar lyk soos al die ander vroue wat ek gedink het mooi is.

Waar gaan dinge dan verkeerd? Ek het myself vir soveel jare gemeet aan die mooiste mense, totdat ek eendag in ‘n bus gesit en om my gelkyk het. Toe lyk ek maar net soos al die ander mense. En ek is soveel meer as hoe ek lyk.

Mirrror, mirror on the wall, you do not define me at all.

People often say that beauty is in the eye of the beholder, and I say that the most liberating thing about beauty is realizing you are the beholder.
Salma Hayek

Advertisements