Sleutelwoorde

,

Groot opwinding hier by Boekemakranka.

Soos party van julle dalk weet, het ek in 2013 ʼn kortverhaalbundel (My Kort vir jou Sop) saamgestel, waarvan alle tantième vir plaaslike liefdadigheid gegaan het. Dit was baie harde werk om die verspreiding en bemarking self te doen, maar dit was ongelooflik lekker elke keer as ek ʼn paar honderd rand kon oorbetaal. Ons plaaslike sopkombuis het verslag gedoen van elke sent van die aankope en kospakkies opgemaak vir behoeftige gesinne. Julle het geen idee hoe lekker dit was om die hope kospakkies so sien lê en jy weet jy het vir ʼn klomp gesinne ʼn paar maaltye met ʼn bietjie aller-basiese goed, voorsien nie.

Die inspirasie vir hierdie bundel was ʼn storie wat Pieta Pieterse my vertel het oor sy skoonseun, hoe ʼn paar sandale sy hele lewenspad verder beïnvloed het. Net daar het ek geweet dat die volgende bundel moet bestaan uit ware verhale, oor ʼn spesifieke klein insident wat ʼn groot invloed op jou lewensbeskouing of lewenspad gehad het. Ek het nog gewonder oor die gedagte wat my getref het, toe kom die antwoord in my kop: Ja, doen dit, en die bundel se naam moet wees Ek Lieg nie vir jou Sop nie.

Ek vertrou my intuïsie en het ‘n paar skrywers gevra om vir my ʼn oorspronklike stukkie te stuur voor einde April, wat nog nie elders verskyn het nie, oor ʼn insident wat hul lewensbeskouing verander het. Dit kan iets wees wat vir ander totaal onbenullig lyk, maar ons weet mos, sulke ware verhale vat eenvoudig net op ʼn ander manier aan mense se harte. Die waarheid is inderdaad ook vreemder as fiksie.

Alle tantième sal verdeel word tussen ons plaaslike Sopkombuis en die Fynbos projek. (Hulle kook maaltye vir behoeftige oumense in die dorp uit al die gemeenskappe) Dit is dus letterlik ʼn flertsie van jou lewe wat jy beskryf, wat kosgee vir mense.

Daar is egter nog ‘n hele paar skrywers wie se e-posadresse ek nie het nie, of wat verlore geraak het na my rekenaaropgradering. Hulle word nog nadergehark.

In nederige erkentlikheid vir die skrywers (van ons héél grootstes – bekroonde skrywers) wat stories belowe het en ook reeds gestuur het. Groot dank aan die heel eerste een in my inboks van Reney Warrington af. Ek het snot-en-trane gehuil toe ek dit lees, toe die tweede een van Amos van der Merwe inkom. Ek het ys-yskoud geword toe ek dit lees. En toe weer gehuil …

Julle, hierdie stories gaan harte raak, want dit kóm uit harte.

(Enkele foto’s wat ietsie van die proses wys van die vorige bundel)

Luister na Ilse Salzwedel van Skrywers en Boeke se onderhoud met Trisa Hugo van Boekemakranka op RSG, op Youtube.

Marion Erskine se onderhoud met die samesteller, Trisa Hugo.

Lees ook ‘n artikel oor die projek in die Rapport.

Advertisements