Sleutelwoorde

, ,

Die meeste mense sê en dink hulle is lief vir hulle lewensmaat. Maar om werklik ‘n maat te kan hê vir wie jy diep, onvoorwaardelike liefde het? Daardie sielsmaat aan wie jy met hart en siel en liggaam verknog is. Lyfliefde. Dis werklik min mense beskore om met hart en siel en lyf lief te wees. Meeste van ons is lief met ons koppe. Beredeneerd. Ons ken nie die verskil nie, want ons het goeie lewens, vol liefde en begrip. Maar ons almal hunker na daardie liefde wat ons dink ons by ander sien.

Om verlief te wees (Infatuation sê dit beter) is ‘n baie intense emosie aan die begin van ‘n verhouding. Being in lust. Daar is allerhande verklarings oor die afskeiding en werkinge van endorfiene en dopamien en allerhande chemichalieë in jou brein wat jou hormone rondklits. Hierdie gevoel van lusliefde hou ongeveer twee tot drie jaar by jong mense, net genoeg vir die grotmens om voort te plant. Maar almal bly nie jonk nie. Ons het klaar ons kant gebring om onsself te vervang, ons lewens en beroepe het aangegaan, maar deep down het ons onderbewussyn nie daardie gevoel vergeet wat al jou sintuie verskerp het, jou die lewe deur ‘n pienk bril laat kyk nie.

In werksituasies word mense gekonfronteer met die teenoorgestelde geslag wat hulle beste versorging en goeie maniere hou vir die kantoor. Slof in ‘n sweetpak, bene wax, hare kleur, dik bekke en skree vir die hond word tuis gedoen. Mense speel onbewus speletjies, die chemichalieë begin vorm en voor jy weet, lyk daardie kollega sommer báie aantreklik. En ‘n nuwe affair word gebore.

Vroeër jare het vrouetydskrifte subtiel van Ekstase gepraat as hulle eintlik Orgasme bedoel het. My woordeboek beskryf dit as ‘n toestand van abnormale blydskap, vreugde, vervoering, of verrukking. In een van Elsa Joubert se heel eerste boeke, moontlik Suid van die wind, het sy ‘n oomblik van ekstase so goed beskryf, dat ek dit maklik herken het toe ek dit vir die eerste keer op 1 September 2002 ervaar het. ‘n Oomblik wat ek nooit weer sal vergeet nie. ‘n Psigiese orgasme. My eerste Oomblik van Ekstase, die oomblik toe my hart en my siel en my lyf bymekaar gekom het, op dieselfde frekwensie vibreer het. Ek was een met myself. Ek was heeltemal alleen toe dit gebeur het, en dit was ‘n baie simboliese oomblik van ons nuwe lewe in die Kaap.

Nou het ek myself al geleer om daardie gevoel, wat waarskynlik deur dieselfde prosesse gedryf word as verliefdheid, te kanaliseer na my verhouding met myself. As ek lief is vir myself, dan is dit soveel makliker om die mense om my lief te hê. Maar wat skop die proses aan die gang? Enige iets wat my intense plesier gee. ‘n Nuwe projek, ‘n nuwe belangstelling, ‘n nuwe kleinkind of vriendskap. Dan begin my selle lewe, ek het meer energie en my bril se lense skyn sommer self pienk. Ek raak verlief op ‘n konsep of proses. Ek raak gefokus. Ek vermag baie.

More is Valentynsdag, en die radioprogramme en tydskrifte is vol voorstelle hoe om romanties te wees. Self is ek seker die mins romantiese mens wat ek ken, daarom doen geliefdes ook nie juis tradisionele romantiese dinge vir my nie. Persoonlik lyk sulke ‘romantiese’ gebare wat self-help boeke en tydskrifartikels voorstel, vir my na iets om te bewys, so bietjie aangeplak, as dit nie vanself en uit die hart kom nie. Maar ek waardeer diep uit my hart die suurlemoen-heuningwater wat my man elke oggend vir my in die bed bring, en die bedagsaamheid om bietjie ekstra heuning in te roer as my keel seer is – dit vind ek romanties. Die stilstaan as ons stap, om vir my ʼn foto-oomblik uit te wys. Bedagsaamheid is vir my die definisie van romanse. Ken my hart, en wys dit. Spandeer baie tyd daaraan, en geen geld nie.

Be my Valentine

There is a lack of understanding in
almost every love story.

(Pedro Almodovar)

Advertisements