Of het ek nie?

Mense is so geneig om te dink aan die konsep Soulmate as die diepe verbintenis tussen twee mense in ‘n liefdesverhouding. Dit is moontlik, maar dit is net so moontlik dat jou Soulmate jou kind kan wees, of jou beste vriend. Julle ken tog almal daardie gevoel as jy met ‘n baie spesiale persoon kennis maak, dit voel of julle mekaar al julle hele lewe lank ken. Daar is onmiddellike herkenning van mekaar. Julle is dadelik gemaklik met mekaar, vertrou en aanvaar mekaar. Soms is julle in so ‘n geval toevallig van dieselfde ouderdomsgroep en van die teenoorgestelde geslag (as dit jou seksuele oriëntasie is). Dis dan wat mense verlief raak, en lief. Is julle beide onverbonde, geen probleem, maar as een of albei in ‘n ernstige verhouding of getroud is, is hierdie nou die rooi ligte van die gevaar van ‘n affair, want wat maak jy met hierdie gevoelens, hierdie energie wat dieselfde chemiese prosesse aan die gang sit as verliefdheid?

Dan ook gebeur dit dikwels dat jy nie ewe veel aanklank vind by al jou kinders of al jou familielede nie. Soms het jy ‘n besondere band met ‘n vriend, of vriendin, wat jy eintlik nie kan verklaar nie.

Is platoniese vriendskap tussen teenoorgestelde geslagte moontlik? Ons wil graag so glo, en baie mense gaan dit hand-en-tand verdedig, en ander gaan sê no ways, ‘n ondertoon van seksuele energie dryf altyd so ‘n vriendskap. In my amper ses dekades het ek dit wel al beleef dat ek met mans suksesvolle platoniese vriendskappe kon hê.

So bestaan daar baie soorte liefde, baie soorte vriendskappe, maar dié wat vir my uitstaan, is die wat ek herken as ‘n sielsverbintenis, waar my energie letterlik saamvloei met die van ‘n ander. Kahlil Gibran skryf baie mooi daaroor:

But let there be spaces in your togetherness and let the winds of the heavens dance between you. Love one another but make not a bond of love: let it rather be a moving sea between the shores of your souls.
Kahlil Gibran (1883 – 1931)

 

Advertisements