Mens kry mos vriende wat vir die res van jou lewe deel van jou hart en jou siel is. Al sien jy hulle nie baie nie.

Party mense kan jou mos so laat lag. Een goeie dag toe my vriendin Marian bel, sê sy ek moet harder praat, sy kan my nie hoor nie. Ek sê toe ek kán nie harder praat nie, my keel is rou en seer. Ek is siék. En hoeveel simpatie kry ek? Sy reken: Ag ’n seer keel is fokol, jy kan ’n Disprin drink, maar sê my, is jy Happy?

Wat ’n inspirerende gedagte was dit nie! Sy koop ook mos eendag vir my so ’n klein pienk verestoffertjie in Oudtshoorn en sê dis om al die kak in my kop af te stof. Daardie stoffertjie het lank reeds vergaan, maar stof steeds menige dag my kop skoon…

Soek vir julle sulke pelle soos Marian. Hulle laat jou lag, en lag is gesond.

(Dis sy wat so vloek, dis nie ek nie…)

Van Marian kan ek nie ontslae raak nie, al probeer ek. Sy duik op die vreemdste maniere in my lewe op, nadat ek haar ook op ‘n vreemde manier ontmoet het. So agt jaar gelede was ek en my dogter in Clearwater mall vir haar trouhare, en sy vra toe of ek nie pleks van te wag vir haar haredoenery vir Marian wil gaan kuier nie. Ek wou nie, gedink sy weet mos nie ek is in die omgewing waar ons naby mekaar gebly het nie. Drie raaie wie loop ek daardie naweek in Midstream op ‘n stappaadjie raak? Marian. En waar kuier Marian? Oorkant die straat van my suster waar ons gebly het. Gister weer is ons deur ‘n vriendin van Vermont genooi om Stef Bos se konsert in Kaapstad by te woon. Sy het 4 kaartjies gehad, en ‘n vriendin van haar seun se ma wat in Kaapstad kuier, was die vierde kaartjie. En wie daag op as die vierde persoon? Marian. Wat is die kanse? Tussen Johannesburg, Vermont, Kleinmond en Kaapstad in verskillende kringe.

Nog so ‘n vriendin is Jennifer. Sy was daar vir my in die moeilikste tye van my lewe, sy het my help wroeg oor die voordele en nadele van saamwoon vs trou (onthou ons praat van die 1980’s) en ook in die jare toe MaanMan vir ‘n jaar lank weg van die huis op ‘n Weermagkursus was. Toe ‘n hartsvriendin jare later op bloedige wyse deur haar man vermoor is, is sy die een wat my kom haal het (in ‘n ander stad ) vir die begrafnis. Ek moes my dooie vriendin se kinders regop hou in die kerk en na die begrafnis ondersteun, maar as Jennifer  my nie regop gehou het nie sou ek dit nooit kon doen nie.

Net so hoop ek was ek daar vir haar toe haar verloofde selfmoord gepleeg het, nadat hy ‘n bos geel rose by haar voordeur gelaat het. Knap daarna het nog ‘n hartsmens dieselfde gedoen, hierdie keer was dit net ‘n briefie aan haar, pleks van geel rose.

So het ons mekaar deur die regtige groot goed in ons lewens gedra, en nou nog kan ons mekaar se grootste geheime veilig bewaar. En respekteer. En ons kan lag oor die lewe!

As dit nou nie die Soulmates is waarvan ek gepraat het in my vorige inskrywing nie, wil ek weet wat is.

Advertisements