Sleutelwoorde

,

Nadat ons gister The Second Best Marigold Hotel gaan kyk het, het ons nie soos gewoonlik gaan sit en eet en dan die fliek uitgesels nie. Nou jy moenie my alleen los met my gedagtes nie. Daar is allerhande wyshede in die fliek, maar wat my heeltyd getref het, was die subteks. Ek sien nêrens op Rotten Tomatoes of elders dat mense daarvan praat nie, maar ek het heeltyd amper PG du Plessis se styl in die fliek gesien. Mens lag op die verkeerde plekke, jy wil huil op die snaakse plekke, jy wil lag as Dev Patel se oë in trane swem. Dis vol menswees, deernis, patos en humor. Die fliek was so gelaai met subteks dat mens eintlik verskriklik moes konsentreer om die menslike gedrag onderliggend aan soms snaakse situasies raak te sien, want die scenes volg vinnig op mekaar. In die nanag toe tref die eintlike gedagte wat ek heeltyd nie kon raakvoel nie my toe: Mens hoef nie menswees op te gee as jy sestig slaan nie.

Ek praat nie nou van die gewone kwale en skete en plooie en velle nie, ek praat van daardie deeltjie van jou wat nog nooit verander het vandat jy ‘n kind was nie, daardie spark van jou menswees, dit wat jou jy maak.

In die fliek was daar bv die terterige een, jy kan sommer sien dit is wie sy haar lewe lank was. ‘Lordy, Lord have mercy on my ovaries,’ sê sy toe Guy by die vertrek instap. Die feit dat sy dit binnensmonds fluister, het my getref. Is sy te skaam om dit hardop vir haar tafelmaat te sê? Is dit ‘n gedagte in haar eie kop? Sou die tafelgenote dit ‘n aanvaarbare opmerking vind?

Die fliek was vol van voorbeelde waar daar allerhande wyshede as ‘n cliché opgedis word, wat só cliché-ish is dat dit eintlik amper ‘n parodie word. Makes moments into magic is so een. Dan kyk Dev Patel jou so hartseer met daardie enorme bruin oë aan dat jy jou maagspiere seer lag. Dit was humoristies, ja, maar om Maggie Smith te sien, nie met haar gewone geligte wenkbrou nie, maar amper negatief en depressief, dan word dit eintlik snaaks as jy haar droë ENgelse humor verwag en dit wel vind, maar half oordrewe.

Nou weet ek nie of ek die fliek misverstaan het nie?

Die subteks wat ek heeltyd in die fliek raakgesien het, is so tekenend van ons lewens. Daar is heeltyd iets onderliggends in ons optrede, wat jy maar net vir jouself kan fluister.

Maar ek weet: The older we get, the more like ourselves we become. Madeline L’Engle het tereg gesê: The great thing about getting older is that you don’t lose all the other ages you’ve been.

Advertisements