Twaalf jaar gelede het ons vir Mina en George in Kleinmond kom kry. Elke dorp het mos maar sy probleem met bergies, en die afgelope paar jaar het Kleinmond se probleem groter geword. Maar Mina en George was seker ons bekendste en geliefdste ‘paartjie’. Mina met haar regop ruggie, en George al slingerende oor die pad, as hy hoogtrap as die Rooiproppie trek.

Vir lank was hulle woonplek in die bosse in die digte fynbos hier onder, naby ons huis, en het hulle paadjie tussen drankwinkel en boshuis by ons huis verbygeloop. Vir ‘n hele ruk het ek gereeld vir Mina haar R7 gegee vir hulle ‘stofie se paraffien’, totdat ek op ‘n dag besef het sy is die stofie en die Rooiproppie (wat toevallig R7 kos) die paraffien. Toe is ons maar weer terug op net kos as ek hulle sien. Sy noem my Juffrou, om een of ander rede.

By kos het dit ook nie gebly nie, ek was altyd haar persoonlike apteek toe ons nog amper bure was. “Juffrou, kyk, kyk net hoe lyk my tet!”, dan dop sy haar uit haar haar klere uit dat ek die skade kan besigtig en die nodige salf kan gee. Hulle het mekaar gereeld met die naaste klip of stok bygedam, selfs eenmaal (wat ek van weet) ‘n mes. Dan was Juffrou se apteek maar altyd hier, met ‘n pynpil, salf en verbande. Ou George het hom een dag met haar misreken, en sy het die naaste klip gevat en op sy bors gaan sit en sy kop oopgekap, en hy moes hospitaal toe. Net een keer was dit bietjie moeilik, sy het ‘n epileptiese aanval in die straat voor ons huis gekry, en daar sit ons, ek met my boude plat in die straat, met haar kop op my skoot dat haar kop nie so kap-kap op die teer nie, en hou haar asemhalingsweë oop, met George handewringend langs my, vol raad en redes (en verontskuldigings) waarom dit gebeur het. Al die karre ry om ons, en hoe meer ek vir George probeer kry om te help dat ons net tot op ons stoep kom, hoe minder luister hy. Gelukkig het ons woonstelgaste daar aangekom, en het die vrou my gehelp met haar. Daardie dag het ek ook besef hoe skoon Mina op haar lyf was, hoe en waar weet ek nie.

Een insident wat ek ook duidelik onthou, is een dag toe sy die klokkie lui en lui en lui, en ek van bo af sien, en nie lus was vir hulle stories nie. Ek het daardie klokkie lank geïgnoreer, totdat sy geskree het, “Ek weet Juffrou is hier, ek wil net vir Juffrou sê jou deur staan oop, en dis gevaarlik, hier kan rondlopers kom en kom steel!”

Hulle was altyd baie vrolik, en die foto waar hulle so in die straat dans, is een oggend geneem toe die boereorkes skuins oorkant ons by Singleton’s gespeel het, en hulle heerlik ligvoets gedans het. Hierdie foto het ‘n tweede prys gekry in een of ander kompetisie van die Huisgenoot. Ongelukkig het die twee die hele ding misverstaan. Ek het vir hulle ook ‘n Huisgenoot gekoop en ‘n paar foto’s laat maak, maar hulle het gedink ek het hengse pryse daarvoor gekry. (Ek het so TV’tjie gekry, so blouetjie so groot soos ‘n kamera. Niks meer as ‘n speelding nie.) Hulle het my lank en leklik daaroor aangevat, het selfs geskimp op Juffrou se grote huis, waar net twee mense woon…

Hoe hulle so lank oorleef het, weet nugter, maar George is verlede Vrydag oorlede, na ‘n stryd met keelkanker. My hart bloei vir Mina, hulle was ondafskeidbaar, en ek vermoed sy gaan nie lank hou nie.

Mina en GeorgeDSCN3152

Ai Mina man, so in die reën vandag.

Advertisements