‘n Paar jaar gelede het ‘n klompie kinders gereeld by tannie Trisa en oom John ingeloer vir broodjies/yoghurt/vrugte/melk. Hulle was verveeld, sonder speelgoed. Een dag het ek vir hulle ‘n bal gegee en strand toe gestuur met instruksies van speletjies wat hulle daarmee kon speel. Die een meisietjie, Poplap, was altyd die segspersoon wat moes sê waarvoor hulle die dag lus was, en wanneer hulle weer “vir Tannie kom kuier”. So het hulle seker gemaak dat ons betyds aankope doen, want sy was ook die een wat afgevaardig is om te vra waarom daar dan nooit lekker polonie in hierdie huis is nie?

Een middag sit ek nog bo en werk, en alle hel bars los onder in die huis. Dis ‘n geskree en lawaai soos jy nie kan glo nie. Kaduks geskrik, weet ek daar is net een paadjie om my man te soek, en dis trap-af. Kan julle dink hoe skrik ek toe ek die draai op die trap so vat en ‘n reus van ‘n swart man in my sitkamer sien, met hierdie verskriklike gekwetter en geskree. Daar is so gewoel en gemaal om hom, dat ek nie dadelik uitmaak die man is in ‘n polisie-uniform nie. Toe moes ek lag! Daar is ‘n hele spannetjie kinders wat almal skree om ‘n woord in te kry, en die grote polisieman in sy uniform probeer hulle kalmeer. Tannie, hoor hier! Tannie, hy het… Tannie, dit en Tannie dat, en elke kind probeer die hardste skree om my aandag te kry.

Teen die tyd dat ons twee die spulletjie tot bedaring het kom dit toe uit dat die een seuntjie (groter en frisser as al die dogtertjies) die bal op die strand by hulle afgeneem het. Hulle het geweet wat om te doen. Hulle het reguit Polisiestasie toe gestap, en ‘n amptelike klag van diefstal aanhangig gemaak. Wat ‘n pluimpie vir daardie polisieman aan diens. Hy het die spannetjie in die vangwa gelaai, die drie blokke afgery tot by ons huis, en die geskil oor die eienaarskap van die bal kom besleg. Die kinders was tuis in ons huis, en het die deur oopgemaak en ingestorm, elkeen wou eerste sy kant van die saak stel. Die bal is toe na deeglike beraadslaging weer aan Poplap en haar onderdane oorhandig, en die seun is berispe oor sy gedrag.

Ek wens ek kan die polisieman se naam onthou, maar ek sal sy gesig herken. Elke keer as ek hoor van polisiebrutaliteit of korrupsie, dan dink ek aan hierdie polisieman en hoop hy weet hoeveel respek ek daardie dag vir hom gehad het. DSCN7664

DSCN7665

Edit: Ek het intussen verneem Poplap werk nou in Bettysbaai. Vandag het die seuntjie op die foto kom inloer en ek hoor vir die eerste keer hy is Poplap se broer. Kyk net watse oulike jongman het Winston geword!

DSC09141

Advertisements