Om te Bant of nie, was baie lank in my kop voordat ek die skuif gemaak het. My slim vriende wie se menings ek vertrou, het immers met groot lof van hierdie nuwe revolusionêre lewenswyse gepraat, met HFLC as uitgangspunt.

Alles het goed gegaan die eerste paar weke, ek het heerlik gevoel en dit was doodmaklik om aan te pas, omdat ons buitendien baie vars groente geëet het. Al waarop ek jaloers is van my mede-Banters, is die baie eiers waaraan hulle kan weglê. (Allergie vir eiergeel verhoed my) Ek was nog altyd lief vir groente vir ontbyt, al het my kinders my skeef aangekyk as ek kool of boontjies op roosterbrood eet.

Vir my was dit eenvoudig! Eet vleis, vis, hoender en groente van die groenlys af, braai alles lekker in botter of olyfolie, leer hoe om coconut oil te gebruik. Ek het buitendien lankal opgehou om gekoopte souse en pakkies goed te gebruik. Ek eet miskien bietjie meer van die oranje lys af as ander Banters. Aandete maak ek bloot genoeg dat daar vir ontbyt ook oorbly. Die bottels vol neute wat ek gekoop het en gedink het ek gaan my doodeet aan, hou lank, ek eet soms ‘n handvol as ek in die middag honger is.

Die heel lekkerste van Banting (afgesien van die paar kilogram wat sommer vanself verdwyn) is dat ek nou openlik al die lekker vet eet wat ek voorheen skelm geëet het. Om my man se hart te spaar, vet was immers ‘sleg’, het ek nog altyd die vetjies van sy steak of tjops afgesny en vir myself uitgebraai voordat ek begin het met die kos. Skelm kaiing-eter word nou ‘n openlike kaiing-eter! Lekker.

Maar probeer jy nou op reis gaan deur verskillende dorpe, en Banting-vriendelike kos kry, veral as jy nie eiers kan eet nie. Nie één van die plattelandse restaurante waar ons die afgelope week was, het ‘n enkele Banting-vriendelike item op hulle spyskaart gehad nie. Nie één van die kelners wat ek gevra het, het geweet waarvan ek praat nie. Bênting, Mevrou? Nee… Wat is Bênting? Net mooi elke item op die meeste spyskaarte bestaan grotendeels uit verfynde koolhidrate, of dit nou pizza, pasta, wraps, broodjies of chips insluit, die grootste deel van elke bord kos is koolhidrate.

So het ek maar elke spyskaart gefynkam, en gekyk wat die beste is wat ek kon kry, sonder soet souse, broderigheid, aartappels en krummels (wat ook in eier gerol word). Wat gehelp het, is om met die eienaars of sjef self te praat, en te vra vir eenvoudig gaargemaakte vleis of hoender, met groente of slaai. In De Rust het die eienaar hom half gevies dat ek niks op sy spyskaart kon eet nie, en gevra of ek fillet met slaai sal eet? Ja, asseblief. Toe kom daardie fillet verdrink in ‘n chemiese bottelsous. Nie dat dit gehelp het om vir Vegetables of the day by enige plek te vra nie, pampoenjam is die naaste wat ek een plek se groente kon beskryf. ‘n Ander een het soetpatats én pampoen gebied, omdat die spinach klaar is, Mevrou.

Ek verstaan wel die eierprobleem is my eie, maar goeie jimmil, waar was die restauranteienaars die afgelope maande? Besef hulle hoeveel meer besigheid hulle sou trek as hulle net wou aanvaar dat daar wêreldwyd ‘n enorme swaai is in wat as gesond beskou word? Dat daar wel mense is wat gesonder wil eet, sonder die oormaat koolhidrate? Dat mense graag ‘n keuse wil hê?

Om redelik te wees, ek het wel twee kwaliteitmaaltye op ons vakansie gehad. Die een was by vriende wat lief genoeg was om ons vir ete te nooi, en die ander by Flava in Wilderness, wat ‘n heerlike Asian duck salad op hulle spyskaart het. Maar die res?

Die wêreld se grootste gesondheidorganisasie kan immers nie verkeerd wees nie!

Indien jy iemand ken wat ‘n restaurant bedryf, doen my asseblief ‘n groot guns en stuur hierdie blogskakel vir hulle.

Advertisements