‘Hulle’ sê die karakter van ‘n samelewing word gemeet aan die wyse waarop daar gesorg word vir die belange van die mees weerloses.

MaanKind sê die omgekeerde is ook waar. Die karakter van ‘n plek kan ook gemeet word aan die wyse waarop die mees weerloses die hand wat hulle voed behandel.

Met ons onlangse blommetoer na Namakwaland, is ons met aankoms by een blyplek begroet deur twee seuntjies, baie duidelik deel van die dorp se probleemkinders. Die enetjie was hoorbaar verstandelik gestrem. Op ‘n stadium vang ek hulle net toe hulle by ons blyplek wil inglip, en raas toe op my kwaaiste. Al brommende dat hulle maar ‘net wou sien of daar nie ‘n los tweerandjie rondlê nie‘, is hulle daar weg.

Probleemkind of nie, die segsman van die twee het toe genoeg respek om my so oor sy skouer toe te voeg: En Mevrou se ma se poes ook…

Skaars ‘n halfuur later het die tweetjies ‘n buitekamer langsaan oopgebreek en gereedskap geteel, maar is kort voor lank deur die polisie opgelaai en teruggeneem huis toe. Die weerloosheid en absolute gelatenheid waarmee die outjies op die agtersitplek gesit het, het my laat besef dat dit nie die eerste keer is wat hulle só huis toe geneem word nie. My hart wou breek toe ek dink na watse omstandighede hulle dalk moet teruggaan. Toe was ek spyt dat ek geraas het en nie eerder kos gegee het nie, maar dit sou hulle seker ook net in hulle kwaad sterk.

Die polisieman het met deernis van hulle gepraat, en die tuinman het ons om verskoning kom vra vir die ‘insident’. Duidelik is die tweetjies ou kastimmers daar rond.

Daardie gesiggie agter in die vangwa spook steeds by my. Watse kans het daardie kinders in die lewe?

Until the great mass of the people shall be filled with the sense of responsibility for each other’s welfare, social justice can never be attained.
Helen Keller

Advertisements