Lank, lank gelede toe MaanKind nog jonk en onskuldig was, het sy baie rondgevlieg vir werk. Op een van hierdie weeklange trips Kaapstad toe, het sy in haar huurkarretjie geklim en in Gordonsbaai by haar niggie gaan kuier. En toe gebeur ‘n wonderwerk …

Grappies opsy, ek was werklik naïef en nie baie berese nie. As plaaskinders van Brits, is ons goed en behoudend konserwatief grootgemaak in die sestigs. My twee tannies in die stad was vir my die toppunt van gesofistikeerdheid en veral my tannie Hennie se wêreldwysheid het my soos ‘n magneet getrek. Sy het openlik voor my pa gerook, met haar langbroeke aan en my niggie Rinie in shorts. Ongehoord in ons dae. Ek het haar moed verskriklik bewonder dat sy my pa so openlik kon terugcheek.

Natuurlik was sy geen saint nie, sy het hierdie onskuldige plaasdogter leer rook onder die perskebome, as ons gaan vrugte pluk op ‘n Sondagmiddag as hulle van Pretoria af kom kuier het vir die dag. Daar onder die perskebome het sy dan ook die blou oogskadu skelm aan my oorhandig wat sy vir my gebring het. My eerste grimering, wat vir ons nog taboe was. Haar kruis om die nek was net so fassinerend. Sy was ook die een wat vir my my eerste paar jeans gebring het, in ‘n tyd toe ons nie langbroeke mag gedra het nie, en so gifgeel stywe nommer. Die boosheid self, het my ouma gereken.

Fast Forward 20 jaar na die laat tagtigs, toe ek op ‘n Kaapse werkstrip Gordonsbaai toe gery het om by my tannie en my niggie te kuier. Rinie se huis het met ‘n wye uitsig oor die baai uitgekyk en ek kon nie glo dat mense maar net so by die see kon bly nie. Sy het my en haar ma ingelaai en met Clarence Drive omgery tot amper in Kleinmond, waar ons nou bly. My mond het absoluut oopgehang oor die wonderskone natuur met die fynbosberg aan die een kant, en die see aan die ander kant. Terug in Gordonsbaai, het ons eers by tannie Hennie-hulle se huis omgery om haar af te laai. En dis waar die wonderwerk plaasgevind het.

20151226_130819.jpgMy tannie het gesien ek kyk vir haar seester op die koffietafel, en sy het daardie seester gevat en vir my gegee. En ook hierdie snaakse pienk ding, en gesê: Vat hierdie, kyk daarna as jy see toe verlang. Dan dink jy daaraan dat jy ook eendag hier kan kom bly.

Hierdie twee woon steeds op ‘n rak met my spesiale klippies en ander toorgoedjies, hier neffens my. Ek glo steeds dat dit ‘n rol in my lewe gespeel het dat ek nou hier by die see kan bly.

Haar Feetjietuin was haar trots en ons het baie ons liefde vir blomme en plante gedeel, en nooit van mekaar weggegaan sonder ‘n steggie van iets nie. Hier is ‘n hele paar goedjies in ons binnehof wat uit haar tuin gekom het.

205152_1027237850336_4511_nLater jare het die rolle bietjie verander, het sy my gebel om raad te vra oor ernstiger sake.

Maar steeds dink ek met baie liefde terug aan my Tannie Hennie, wat gister op Kersdag gesterf het, vir die rol wat sy oor baie jare in my lewe gespeel het, op verskillende maniere. Toe ek nog ‘n klein feetjie was en sy ‘n grote, het sy die Free Spirit wat sy in my herken het, soos hierdie brose seepbel in haar hand hanteer.

 

Ek hoop hierdie paar fototjies vang haar spirit vas, en ek weet sy sal nie omgee oor die wynglas en dit lang sigaretas wat op die punt bewe voordat sy dit nét betyds afskud.

Advertisements