Illusie? Nee, dis ‘n skrikwekkende gedagte. Iets wat só maklik ‘n realiteit kon wees.

Dit is so maklik om illusies te hê oor daardie jeugliefde. In ons eie harte en koppe is ons self mos nog steeds dieselfde mens, jonk en vol woema. Dit is so maklik om tydens die realiteit van ons verhoudings en huwelike, as ons soos maalklippe aanhou maal, maar nooit regtig ons skurwe kante glad kry nie, te dink hoeveel beter die lewe sou wees saam met jou jeugliefde. Die prentjie in ons koppe is natuurlik nie dié van ‘n middeljarige persoon wat net soos ons almal, al deur skandes en die skades gemerk is met die emosionele en fisieke littekens van die lewe nie. Nee, in ons koppe is dit maklik om daardie jeugliefde te sien soos ons hulle onthou, borrelend en bruisend, in die bloeiselfase waar alles groei en bot in die lente van ons lewens.

My heel eerste liefde is vroeg-vroeg dood aan ‘n hartaanval, vir hom het ek eenmaal in Rietfontein raakgeloop en my hart het omgekeer, maar daardie jare het mens mos nie sommer net nommers geruil nie. Ons was beide getroud met twee kleintjies en besig om aan ‘n lewe te bou en dit was goed so. Kort daarna het ek gehoor hy is dood aan ‘n hartaanval op ‘n baie jong ouderdom. Ek kan nie eers begin om te dink hoe my lewe sou wees as so jong weduwee nie.

My heel eerste ernstige verhouding wat sou kon lei tot ‘n huwelik, sou my grootste tragedie ooit wees. Vir hom het ek twee maal agterna gesien, ongeveer 1990 het ons in Pretoriusstraat in Pretoria afgery, en hy het langs ons ingetrek op sy motorfiets. Ek het gebrand om die ruit af te draai en hom te beduie om ons te volg, maar ek het nie. Daarna het ek nooit weer van hom gehoor nie, totdat ek hom in 2007 weer in Pretoria by ‘n robot gesien het, hierdie keer vuil, onversorg en met ‘n bord om sy nek. God bless.

Hoe sou ons tog weet wat moontlik was in ons lewe? Ek het verlede week een oggend wakker geword met hierdie vreemde gewaarwording, van drie moontlike rigtings wat my lewe kon inslaan. Twee daarvan het ek gevolg, die een het ek halfpad opgehou stap om die derde rigting te kies. Maar die eerste een, die hoofstroom wat my lewe sou kon wees, sou my my menswees gekos het.

“She is free in her wildness, she is a wanderess, a drop of free water. She knows nothing of borders and cares nothing for rules or customs. ‘Time’ for her isn’t something to fight against. Her life flows clean, with passion, like fresh water.”
― Roman Payne

Advertisements