Die enigste ding wat elke mens op hierdie aardbol in gemeen het, is die feit dat iedere een gebore is en ook gaan sterf. Of jy nou bekend is en of jy bloot bemind is. Die afgelope dae was daar baie seer op Facebook, by my kennisse, vriende en ook in my familie.

Wanneer ‘n bekende persoon sterf, veral onder tragiese omstandighede, is daar soos met enige onbekende en ‘onsigbare’ mens wat dood is, vriende en familie wat rou. Rou is seer, rou is privaat. Mens se hart voel letterlik rougeskraap en blootgestel, soos ‘n brandwond. Elke persoon hanteer so iets anders, soos wat hy maar ook sy vreugdes hanteer. Party deel hulle verdriet in die openbaar, maar juig ook openlik oor hulle vreugdes. Facebook is maar bloot ‘n verlengstuk van ons menswees, elkeen tree op na sy aard. Party mense is privaat en skugter, ander maak ‘n spektakel van alles; en die meeste van ons val iewers op hierdie lyn tussen die ekstremes.

Wat my altyd opval is al die mooi goed wat oor mense geskryf word na hulle dood. Nou wonder ek hoe sou mense eendag na my dood oor my skryf? Hoe sou dit verskil van wat hulle nóú sou skryf as hulle hoor ek het met hulle beste vriendin se man weggeloop? Ons het almal goed en sleg in ons, maar net die beste van almal word onthou na hulle dood. Sou dit nie sin maak as ons daardie mooi nóú in mense sien en dit ook vir hulle sê nie?

My ma se dae loop uit en sy is baie nugter daaroor. Sy het altyd geleef om die mooi in ander te sien, en telkens die kinders geleer van die silwer randjie om die donker wolke, al was daar vernietigende hael in die stormwolke. Een oom het een dag, járe gelede gesê as hy net een mens moet kies as voorbeeld wat reguit hemel toe gaan, sal dit my ma wees. So nugter soos wat sy oor haar naderende dood is, so praat sy ook oor die feit dat mense tog nie agterna al die goeie dinge op ‘n begrafnisbriefie moet skryf oor haar nie. Sus Kobie (Slakkelak) is besig om iets oor my ma te skryf, maar sus Teunet het hierdie briljante idee gekry dat elke een van ons agt kinders en kleinkinders vir haar nóú, terwyl sy dit kan lees, skryf wat sy vir ons beteken het. Die afgelope dag of twee het dit glad nie goed gegaan nie en het Teunet die troepe soos ‘n sersant-majoor aangejaag om nóú te skryf. Is dit nie ‘n briljante gedagte nie?

“That’s part of what I like about the book in some ways. It portrays death truthfully. You die in the middle of your life, in the middle of a sentence”
― John Green, The Fault in Our Stars

death-is-nothing

 

 

 

 

Advertisements