Sleutelwoorde

Die deurklokkie luis, net toe ons regskuif vir ontbyt. Dis ‘n paniekbevange gas wat hulp nodig het, sê sy, haar stem hoog en vinnig van ontsteltenis. Ek skakel dadelik die stoofplaat af en gaan hoor wat die probleem is, want my man lyk of hy nie mooi verstaan nie. “Julle móét my help! Ek het nood!”

Nou wie sal nie dadelik help nie? Veral as dit ‘n betaalde gas in jou gastehuis is. Vriend of vyand, bekend of vreemd, as jy val voor ons huis, tel ons jou op en was die bloed af en maak tee. Pap wiele word vir jou omgeruil, al het jy ons randsteen beskadig. Nè? In hierdie geval het ‘hulp’ beteken dat ek/ons moes Spar toe om vir haar ‘n koek te gaan koop wat sy wou saamneem iewers heen, en haar geloof verbied haar om op hierdie mooi Maandagoggend handel te dryf. En dis moes nóú gebeur, sy was reeds laat. Ek het eers toe ek die koek veilig in haar hande afgegee het, die absurditeit van die situasie besef.

Klink hierdie bekend?

Jy moet my geloof respekteer
Respek moet verdien word
Jy moet my privaatheid respekteer
Ek respekteer nie jou standpunt nie, ek respekteer die mens
Kinders het nie meer respek vir enige iets nie

Dis so maklik om oor sulke goed te praat, sonder dat ons regtig dink oor wat ons sê. Ons almal weet vaagweg wat die woord respek beteken, tog interpreteer ons dit anders in verskillende situasies.

koekDie hele dag het die situasie my gepla, ek het gewonder waarom ek dit met groot liefde vir haar gedoen het. Sou ek dieselfde doen vir my buurvrou? Ek twyfel. Vir iemand wat ek goed ken, sou ek seker sê moenie jou geloof se beperkinge my probleem maak nie. Vir ander sou ek dit dalk gedoen het, maar hulle sou moes wag totdat ek tyd het. Die waarheid het ek eers besef toe ek klomp scenarios probeer voorstel, hoe ek die suituasie sou hanteer en vir wie sou ek my eierpan eenkant toe geskuif het en eers Spar toe gegaan het. Vir wie of waarvoor het ek genoeg respek om dit uit my hart uit, met liefde te doen? Klink dit selfsugtig as ek sê ek het dit gedoen omdat sy ‘n betaalde gas is? My lojaliteit het gelê by ons besigheid en ek het genoeg respek vir ons besigheid dat ek gevra het, “Enige spesifieke koek? Hoeveel moet ek spandeer?”

Verlede week was daar ‘n relletjie tussen twee kelners by ‘n restaurant van ‘n bekende padstal, waar die ouer een (wat al jare lank vir ons kos aandra) so onder haar asem vir die dikbek jong kelner toesnou: “Is oor djy nie rispekte het vir grootmense nie…” Vir my het sy kopskuddend kom vertel van die jongetjies wat nie meer maniere het nie, terwyl die einste jongetjie haar lot bekla by ‘n ander kelner en hulle giftige kyke het my bly gemaak dat ek nie daardie dag kos uit hulle hande eet nie. Die situasie sou snaaks kon wees, as dit nie soveel sê van ons almal daar se menswees nie; en hoe onregverdig die ‘aanklag’ was, waar hulle op gelyke voet, gelyke werk doen.

Begin respek nie by onsself nie? As jy respek het vir jouself en jou os en jou esel, is dit maklik om te sê: “Natuurlik! Met plesier.” Sonder waarde-oordele oor ander se geloof, gedrag of menswees.

“Above all, don’t lie to yourself. The man who lies to himself and listens to his own lie comes to a point that he cannot distinguish the truth within him, or around him, and so loses all respect for himself and for others. And having no respect he ceases to love.”
― Fyodor Dostoyevsky, The Brothers Karamazov

Advertisements