Kiewiet. Dis wat hy haar altyd genoem het. Sy was ‘n fyne ou dingetjie, my tannie Frikkie, so die naam het gepas. Dis net, my oom Hans was ‘n stewige, sterk man. Kort, maar fris en sterk en sy het hom óók Kiewiet genoem.

Ons het grootgeword in ‘n era waar sigbare liefde nie juis tussen man en vrou betoon is nie en as daar liefdeswoordjies tussen grootmense was, was dit nie vir kleine muisies se ore bedoel nie, want ek het dit nooit gehoor nie. ‘n Welkome uitsondering was oom Hans en tannie Frikkie, wat in Pretoria gewoon het. In die stád, met al die blink liggies. Dit is hulle wat ons kinders met vakansiekuiers in die swart Volksie gelaai het en met Voortrekkerweg af gery het, sodat ons die liggies kon sien. Hulle het ons ook in die aand middestad toe gevat vir window shopping. (‘n Algemene gebruik daardie jare).

Dit is by hulle wat ek geleer het van die liefde tussen ‘n man en ‘n vrou. Sigbare liefde, van ‘n man wat sy vrou liefdevol hanteer as sy migraine gehad het, of ‘n seer rug. Saam het hulle blikke en blikke koekies gebak, in ‘n era toe mans nie eintlik geweet het waar die meel gebêre word nie. Iewers in 2001 het my sus Drinie my gebel en gesê sy het tannie Frikkie in die hospitaal besoek, haar hart lol. Vir ‘n oomblik was ek paniekbevange dat sy sou doodgaan voordat ek vir haar sê wat sy vir my beteken het, en ‘n paar dae later het ek die een oproep gemaak waaroor ek nou nog bly is. Ek het vir tannie Frikkie gebel om te sê dankie, ek het by hulle geleer hoe lyk liefde tussen ‘n man en ‘n vrou. Sy het verskriklik gehuil oor die foon en gesê dis die mooiste kompliment dat iemand haar kon gee, as sy vir hulle so iets kon beteken waarvan sy nie weet nie. Nie lank daarna nie is sy aan haar hart dood, op 59. Ek het met my ma se 80e verjaarsdag in 2014 die geleentheid gehad om dit vir oom Hans te vertel en sy trane was minder, maar daar.

Hierdie twee mense was by my eerste troue, hulle het potte kos aangedra vir die ete na Anria se doop. Dit ook uit haar hand was Anria daardie dag haar eerste proeseltjie pampoen gehad het. Hulle dogter Ina het Anria ‘ingebring’ met die doop, sy het so ‘n mooi geruite rompie aangehad.

Ons het hulle later jare dikwels op Pilditch raakgeloop. Ina was ‘n provinsiale gimnas en baie goeie atleet en hulle was baie betrokke ouers, tannie Frikkie was ‘n gekwalifiseerde skeidsregter.

Sou iets verkeerd gaan in die familie, was oom Hans jou man. Hulle het uit hulle pad gegaan om te help, met enige ding. Toe my sus Drinie in die hospitaal was met Meningitis en my pa elders gewerk het, het hulle hoeveel keer Brits toe gery om my ma te gaan haal vir besoektyd in Pretoria, en haar weer teruggevat. (My ma het eers later jare leer bestuur.)

Nooit wou oom Hans iets in ruil hê nie, net eenmaal het ek hom hoor sê: Ag Sus, gee dan maar vir my ‘n lekker vet slaghoender. Dan wys hy vir ons kinders nog ‘n trick, om die aandag van hom af weg te vat.

So is elke een van my familie ‘n boublokkie wat gehelp het om my fondament in plek te kry. Dit is vir my inspirasie om te hoop dat daar ook eendag kinders in die familie sal wees om met liefde terug te dink aan hulle oorle’ tannie Trisa, dalk een van die kleintjies wat ek  geleer het ‘blomkiesies’ maak sonder jou hande of so iets laf.

Nou is dit net my ma van die ‘ouer kinders’ wat oor is, oom Hans is gister oorlede.

Advertisements