Alhoewel die helfte van die gebou wat ons huis noem al ‘n middeljarige 70-jarige is wat steeds rotsvas staan, is die gedeelte waarin ons woon maar ‘n blosende bruid van 24.

Na 24 jaar, is sy ‘n lewende entiteit, ‘n entiteit was asemhaal, soms houterig kraak onder die Noordwestewind se druk en dikwels ‘n traan stort. Haar trane is taai, gommerig en drup van tyd tot tyd op die meubels of die mat. Selfs eenmaal op my sleutelbord.

Ek glo maar dat hierdie goue stukkies gom iets positiefs en lewendigs uitstraal, om ons te wys op die skoonheid in die klein dingetjies om ons. Dit het my ook bewus gemaak van die interafhanklikheid tussen mens, objek en natuur. Iewers in hierdie foto’s is daar die allefynste spinnerakkie ingeweef – Die huis se trane wat lewe onderhou.

Jou huis is ‘n refleksie van wie jy is. Dit ontbloot jou passies, jou persoonlikheid, jou verstrengeldheid en vasklou aan die verlede en jou hoop vir die toekoms. Jou huis vibreer van energie en gedy op liefde en warmte. Kyk maar wat gebeur met ‘n huis wat leeg staan. Kort voor lank verkrummel dit en sak inmekaar, sonder dat daar noodwendig fisieke skade aan gedoen word. Sou ons kon aflei dat ons eie chi (lewensenergie) daardie lewe in ons huise voed? Hoe anders bly ‘n stukkie plank aan die lewe nadat dit ‘n kwarteeu gelede iewers afgesaag is? Sou daardie plankie steeds gomtrane drup as hy in ‘n onbewoonde huis tussen stof en spinnerakke gelê het?

My religion consists of a humble admiration of the illimitable superior spirit who reveals himself in the slight details we are able to perceive with our frail and feeble mind. – Albert Einstein

Advertisements