Geluk is eintlik ‘n baie eensame ding. Ons mensdom is op ‘n snaakse manier tóg uitgelewer aan mekaar. Ons is nie altyd verantwoordelik vir ons eie geluk nie, geluk is nie altyd iets wat van binne jouself kom nie soos die self-help gurus graag aan ons wil voorskryf nie.

Hoeveel clichès kan in een sin soos hierdie voorkom? Happiness comes from within and is found in the present moment by making peace with the past and looking forward to the future. Hierdie woorde van Doe Zantamata kon net so wel deur ‘n word generator opgeklits gewees het.

Hierdie uitgelewerdheid aan mekaar beteken glad nie dat ons afhanklik is van ‘n ander se goedkeuring vir ons gedrag nie, dis eerder ‘n baie diep vorm van jouself deel, om onvoorwaardelik jou ondersteuning te kan gee en ook van daardie selfde persoon te kan steun vra en aanvaar. Daardie mens van wie jy kritiek kan aanvaar, wat vir jou kan lag en by wie jy kan huil, sonder oordeel, sonder enige kwaadwilligheid. By wie jy broos kan wees, maar ook jou trots kan deel.

Interafhanklikheid, uitgelewerdheid – Yin en yang, gee en neem, so gebalanseer soos lig en donker, die warm en koud in my avatar. As daardie balans versteur word, verdwyn die lig in ‘n mens se oë, jou spieël weerkaats nie meer die lig wat jy aan ander kan bied nie.

“The soul, fortunately, has an interpreter – often an unconscious but still a faithful interpreter – in the eye.”
― Charlotte Brontë, Jane Eyre

Dikwels voel ons ‘n leemte in onsself, ‘n diep verlange na iets of iemand wat jy nie ken nie. ‘n Verlange na self, jou volledige self. ‘n Verlange na die lig in jou hart wat deur jou oë skyn.

“Then love knew it was called love.
And when I lifted my eyes to your name,
suddenly your heart showed me my way”
― Pablo Neruda 

Advertisements