Sleutelwoorde

Miskien is dit nie gepas om op Goeie Vrydag oor die dood te skryf nie, maar dalk is dit juis, vir perspektief.

As iemand ná aan jou doodgaan is dit seer, jou hart is rouerig en bloederig en blootgestel, want nooit is ‘n verskriklike woord. Die ergste is waarskynlik om ‘n kind te verloor, daardie pyn kan nie weggaan nie, al is dit seker moontlik om later vir rukkies daarvan te vergeet.

Daar is iets in ons kultuur rondom die afsterwe van mense wat net nie vir my sin maak nie. Waarom tog het mense skielik meer respek vir iemand as hy dood is as wanneer hy lewe? Mens sien dit so baie dat mense oor oseane heen vlieg om iemand se begrafnis by te woon, of iemand se begrafnis bywoon wat hulle in geen jare gesien het nie. Niemand waag om lelik te praat van iemand wat pas dood is nie, dit is asof daar ‘n heiligheid so mens omgewe, veral as dit nog ‘n bekende is. (Dan RIP almal op Facebook en party RIP eers en vind dan skelm agteraf uit wie die persoon was.) Lyke word respekteer en dit reg so, maar as ek begin dink daaroor maak dit nie juis sin nie.  As jy glo aan die Christelike ewige lewe, beteken die aardse dop mos nou niks meer noudat die liggaam en siel geskei is nie. Glo jy dat die lewe tot niks kom, is die lewe mos nou weg.

‘n Afgestorwene word verhef tot iets meer as lewe. Die mens se identiteit word hom met afsterwe ontneem, hy word nou die liggaam, die stoflike oorskot, die lyk, die oorledene en so. Mense noem nie meer die persoon by die naam as hy in ‘n kis lê nie.  So, identiteitloos en al, kry daardie mens weer ‘n ereplek met ‘n duur grafsteen, kruik of gedenkmuur, ‘n bankie langs die see of blomme langs die pad. Dan kry hy mettertyd weer ‘n naam as die grafsteen opkom, die plaatjie op die bankie vasgesit word. Selfs in begrafplase is daar sekere areas wat duurder is as ander. Soos elke eiendomsagent jou sal sê, Location, Location and Location is die drie grootste woorde.

Die groot ding is daardie stukkie tussen Lewe en Dood, waar die persoon dan ‘weg’ is. Ons eie Pase. Ek verstaan dit as ‘n afskeid, daardie stukkie waar jy eintlik rou oor jouself, jou verhouding met die persoon wat nou tot niet is deur iets wat julle nie gekies het nie. Nou het ons mos nooit geleer om regtig sag en goed te wees vir onsself nie, nou verbeel ons ons, ons rou oor die persoon wat weg is. Dit is tyd dat ons leer om ons eie weerloosheid te erken, dat ons weet dat die finaliteit van alleen oorbly, die verskrikking van self sukkel sonder dit wat die oorlede geliefde vir jou was en die verskriklike gemis oor onsself gaan.

Wanneer ons aanpassingsperiode verby is, het ons gegroei in ‘n fase waar ons verantwoordelikheid neem vir self, waar ons nie meer daardie persoon ‘nodig’ het nie, net die gemis is dalk steeds daar waar ons meer volledig gevoel het met die persoon as emosionele kruk wat ons heel laat voel het.

Dalk is dit net so met mitiese figure, voorgeslagte en historiese figure.

“For as much as I hate the cemetery, I’ve been grateful it’s here, too. I miss my wife. It’s easier to miss her at a cemetery, where she’s never been anything but dead, than to miss her in all the places where she was alive.”
― John Scalzi, Old Man’s War

Advertisements