“Hulle het my abuse met hulle heiligheid.”

Hierdie woorde het my hard getref gisteraand, komende van ‘n vriend wat hierdie week sy vrou se lewe wat verby is, moet gedenk.

Die afgelope tyd het ek besef hoe absoluut magteloos ons is om werklik begrip te hê vir mekaar in tye van trauma. Ons kan mooi woorde praat, hande vashou, kos vat, help aanry, maar ek kan my glad nie indink dat enige iets wat ek in so ‘n tyd sê, van waarde vir daardie persoon kan wees wat pas ‘n geliefde verloor het nie. Op Facebook sien ek dikwels (hopelik) goedbedoelde trooswoorde, maar van buite gekyk, ervaar ek dit ook dikwels dat mense van die geleentheid gebruik maak om hulle eie oortuigings op ‘n getraumatiseerde mens af te pass. My maag gee sulke hol draaie as ek sien hoe mense selfs aan ‘n persoon wat pas sy lewensmaat verloor het, verduidelik hoe dit God se manier is om hom te straf vir sy ongelowigheid. Of as sy geloof sterk genoeg is en hy regtig hard genoeg bid, sal sy nie sterf nie.

Elders praat ons van die tydskrifte se uitbeeldings van middeljarigheid, hoe huppelende oues hande vat en op strande teen duine afhol. Skitterwit tande en al. As middeljarige was my realiteit hierdie week was net soveel anders, vriende wat hulle maats verloor, mense wat deur hervestiging hulle strukture en vriendskappe verloor. En ‘n herkyk van The Best Exotic Marigold Hotel wat die realiteite op ‘n wonderlike manier, met baie subtiele humor uitspel. Mens hoef sekerlik nie jou menswees op te gee as jy sestig slaan nie. Ek praat nie nou van die gewone kwale en skete en plooie en velle nie, ek praat van daardie deeltjie van jou wat nog nooit verander het vandat jy ‘n kind was nie, daardie spark van jou menswees, dit wat jou jy maak.

Daardie spark van jou mag dalk nie op strande kan rondhuppel nie, maar dit kan langs ‘n vriend staan om dalk, vir ‘n kort oomblik, sy via dolorasa net effens te verlig.

“There’s a fine line between support and stalking and let’s all stay on the right side of that.”
― Joss Whedon

Advertisements