Tipies het ek gisteraand geen idee gehad wat ek gaan maak nie, maar omdat daar twee blikkies seekos in die kas was, het ek gedink seekos van ‘n aard. Die baby clams op hulle eie is te clammerig en die krap, lekker soos krap is, te krapperig. Met die garnale by, het al die smake iets gesoek om dit bietjie te laat trou. Toe nooi vriend Deon homself vir ete en toe gebeur die volgende, terwyl hulle die eerste bottel wyn oopmaak:

Braai een groot stuk stokvis en een gerookte kipper liggies in botter en vlok in ‘n vlakkerige oondbak. Enige gerookte vis soos salm sal ook werk, selfs ‘n stukkie haddock. Alles verder kom nou in lagies bo-op. Gooi die brine af en pak clams en krap op die vismengsel.

Braai ‘n ui in olyfolie tot sag. Sny solank een medium patat in dobbelsteentjies en stoom in ‘n pan met net ‘n teelepel water tot amper sag. (Ignoreer die verbasing van twee mans van oorkant die kombuistoonbank af oor die patat wat in die seekos gaan. Patát?!? Ja, patat.)

As die uie amper sag is, braai ‘n paar gesnyde knoffelhuisies daarby. Die patatblokkies kom bo-op die vis en dan die uie en knoffel. Braai nou die garnale vinnig oor hoë hitte in botter en strooi dit oor die ander kos. Garnale laaste omndat dit die mooiste is!

Al die kos word apart gesout soos jy aangaan. Krap nou met ‘n zester suurlemoenskil bo-oor en druk die sap van ‘n halwe suurlemoen eweredig oor die bak uit. Een boksie room oor alles, en dan gaan hy in die oond , op so 180 grade.

Laat skink intussen vir jou nog ‘n glas wyn in.

Hierby het ek net die halwe butternut in skywe gesny, gaar gestoom in ‘n pan en in botter gebraai en ‘n eenvoudige slaai van avokado, suurlemoensap, olyfolie met rocket uit die kruiebak en geroosterde pampoenpitte en tamatiekwarte vir kleur.

 

Advertisements