Telkens as ek iets maak, wil MaanMan weet wat dit is of waar ek die idee kry. Nou soek ek ‘n naam vir hierdie heerlike groentegoedjies wat ek gisteraand gemaak het. Dit herinner sterk aan iets wat ons in San Francisco geëet het by een van die Indiese, Pakistani of Afghaanse restaurante waar ons geëet het, maar geen menu wat ek Google, gee ‘n naam daaraan nie. Ek het gedink dit was by die een waar ons in Fremont was, die Afghan Kabob, waar ek my verbeel het ek eet in Abe’s Kabob, wat Abdullah in Khaleid Hosseini se And the Mountains Echoed begin het. Dis is nie roti, paratha, bhaji, dosa, bolani of enige ander snaakse broderige ding nie, en dit voel vir my hierdie kossie verdien ‘n naam.

Daar was gisteraand bietjie souserige oorskietvleis, eintlik te min vir ‘n ete, maar omdat ons nie aartappels of rys eet nie, moes ek iets soek wat die ander groente bietjie lyf gee. Terselfdertyd was ek te lui om klomp soorte groente te maak, en wat sou nou pas by bietjie oorskietvleis, wat lyf het, en boonop vars groente in ons mae sit?

Ek het die pakkie chickpea flour uitgehaal, ‘n ui fyngekap en toe gebeur hierdie een sommer self toe ek kyk watse ander vars groente daar is. Toe een skyf butternut en ‘n handvol baby marrows in baie klein dobbelsteentjies opgekap, meer met kleur as smaak in gedagte.

20170618_180237

Die slapperige degie bestaan net uit chickpea flour met yswater aangemaak, met ‘n halwe teelepel bakpoeier, sout, ‘n paar vlokkies droeë chillie en ‘n lepeltjie harissa poeier. Die koekies word gebraai net in ‘n paar druppels olyfolie, meer om die pan te smeer as iets anders.

Die geure het gelukkig lieflik getrou, dit was sag en geurig en het heerlik gewerk met die souserige oorskietvleis wat ook fyngekap en in die sous warm gemaak is. Elkeen het ‘n klein bakkie vleis gekry, met hierdie koekies wat jy gebruik om dit so te skep en te hap. Hierdie kos smaak mos beter as jy dit soos in Indiese restaurante met jou hand eet.

Ons het saamgestem dat hierdie herhaal moet word en dat ons dit vir Riana moet maak, ons vegetariese vriendin. Ons het net nie geweet dit gaan so gou wees nie … Sy was vanoggend hier vir ontbyt, en raai wat het sy by haar roereier gekry? Hierdie keer met fyngerasperde kaas oor, en netjies met messe en vurke geëet.

Nou het ek ‘n probleem. Dis is nie roti, paratha, dosa, bolani of enige ander snaakse ding nie, en dit voel vir my hierdie kossie verdien ‘n naam en nig Google het nie raad nie. Wie kan help?

20170618_180720

Edit: Danksy my vriendin Dolla Junius, weet ek nou wat ek hier beskryf, word Pakoras genoem in die Pakistani cuisine. Hierdie is dus nou bekend as Boere-Pakoras! Wat is ‘n mens nou sonder vriende wat slimmer is as jy?

Advertisements