Ter wille van dié van julle wat my nie goed ken nie, ek is wat bekend is as ‘n ‘sterk vrou’. Emosioneel, en toe ek jonger was fisiek ook. Ek kan dit vat! Hetsy verantwoordelikheid, werk, pyn of swaarkry. Maar ongelukkig is dit mos so dat mens altyd vir die hele wêreld en sy broertjie ook verantwoordelik voel … Deesdae het ek darem geleer om te kan Nee sê. Maar dis maar ‘n onlangse ding.

Daar is iets waaraan ek altyd heimlik dink, maar as Sterk Vrou kan ek immers nie dat ander hiervan hoor nie? Ek wil net vir een week geen, maar géén verantwoordelikhede hê nie. Ek wil voor gesorg word en getroetel word. Nou troos en troetel is nie woorde waarmee ek grootgeword het nie en dit is nie woorde wat op enige tydstip van my lewe deel was van my dag nie. Soos sus Slakkelak tereg sê: “… maar in ons huis het mens klaar gehuil en dan opgestaan en aangegaan. Nie drukkies en jammer en sulke goed nie. Jy tjank klaar en dan staan jy op.”

Om een of ander rede is ek nie die soort vrou wat getroetel word, of voor gesorg word nie. Ek sorg. Ek neem mede-verantwoordelikheid. Ek doen die admin en die banksake. Die belasting. Die liewe MaanMan, bless his slimme soul, kom nog van die ou skool, waar die sekretaresses (dit was nog voor die tyd wat hulle PA’s genoem was) alles gedoen het. Die base het mos net die besluite en die dinkwerk gedoen.

Maak geen fout nie, MaanMan doen al die swaar werk in ons huis, en hy bring sy kant 200%, maak die koffie en pak die skottelgoedwasser uit. Hy is netjies op homself en sy omgewing. Dan kan hy nog intelligente gesprekke voer ook. Hy is (meestal) ‘n plesier om aan my sy te hê, maar hy sien my as ‘n vennoot, die sterk vrou en mens wat ek is. Tog kan ek nie help om soms te dink ek wil ook soms oor niks hoef te dink of te besluit nie.

So kom ek uit daardie moeilike generasie, waar vrouens begin werk het. Emansipasie het ons ‘n raw deal gegee, maar dit het ons sterk gemaak. Ons was vrou en werker. Ons moes – en kon ook – alles doen. Maar ai, dit lyk darem soms so lekker as mans so storm om die hulpelose wesens te hulp te snel!

Miskien kan ek so ‘n hulpelose wese wat getroetel word wees in ‘n volgende lewe, sonder ‘n opinie van haar eie? Maar net kortstondig dink ek… Ek sal waarskynlik een van daardie demure maidens wees wat vir jare lank geheimsinnig glimlag en dan een goeie dag genoeg gehad het en dan  strip en ‘n gifmoord of iets uitvoer, of iets lekker bloederig.

Men have loved to dwell … on the demure maiden whose inevitable reply is: Oh, yes, if you please, kind sir! The demure maiden, the demure spouse, the demure mother this is still the ideal.“ – DH Lawrence

“Demures might not be rich, intense or vivid in colour, but they do have a place in the herbaceous border of life. They are those small blushing flowers in the front nodding prettily away. It is only when you dig them up you find their long tenebrous roots have strangled every other plant in the bed.” – Lin Sampson

Advertisements