So dikwels voel mens mos so stokalleen en verlate, so asof jy net in die niet wil verdwyn. Niks is regtig fout in jou lewe nie, jou mense is om jou, maar jy wens hulle was nie. Alles lyk doelloos, niks voel reg nie.

Wanneer jy so voel, is die laaste ding wat jy wil hoor, hoe bevoorreg jy is. Hoeveel swaarder ander kry, hoeveel seer daar rondom jou is. Dit wéét jy, maar op daardie oomblik hoef niemand jou daaraan te herinner dat jou lewe eintlik baie rooskleurig is nie. Jy wil jou kop toetrek en met niemand praat nie en niemand sien nie, wat nog te sê van iets doen! Dit is die tyd om ‘n paar stille trane te stort, sonder enige rede, dat jy die gif uit jou lyf uit ween.

As ons mekaar hierdie kortstondige swartgalligheid gun, mekaar uitlos om verdrietig te voel net omdat ons wil, waai dit ook baie vinniger oor.

Wat noem ons hierdie toestand? Nee, dit is alles behalwe depressie. Ons ly net ‘n bietjie aan menswees.

Wanneer jy weer verskyn uit dieselfde dieptes waarin jy wou verdwyn, sonder dat jy noodwendig iets gedoen het aan hierdie toestand, dan besef jy dat jy maar net mens is. ‘n Mens wat funksioneer in terme van ander. Jy is deel van jou kringe, werk, vriende en familie. Jy speel baie rolle, vir baie mense. Jy IS baie dinge, vir baie mense. Sou jy alleen op ‘n eiland woon, sou jy met dieselfde sorg aantrek, grimeer, tafeldek en oorringe dra? Ons doen hierdie dinge uit respek vir onsself, vir wie ons is, maar ook vir wie ons is binne ons kringe. Ons word gedefinieer vir wie ons is, soos wat ons optree teenoor ander. Dis darem ook ‘n goeie ding dat mens nie is wat ander mense dink jy is nie, dat jy meer is as die persepsie van hoe ‘n ander persoon jou sien.

Most people are other people.  Their thoughts are someone else’s opinions, their lives a mimicry, their passions a quotation.  Oscar Wilde, De Profundis, 1905

Hierdie stelling slaan my op my maag, want Oscar Wilde kon netsowel hierdie stelling vandag gemaak het. Maar tog: No man is an island.

All mankind is of one author, and is one volume; when one man dies, one chapter is not torn out of the book, but translated into a better language; and every chapter must be so translated…As therefore the bell that rings to a sermon, calls not upon the preacher only, but upon the congregation to come: so this bell calls us all: but how much more me, who am brought so near the door by this sickness….No man is an island, entire of itself…any man’s death diminishes me, because I am involved in mankind; and therefore never send to know for whom the bell tolls; it tolls for thee.”

– John Donne (1572-1631). Devotions upon emergent occasions and seuerall steps in my sicknes – Meditation XVII, 1624

Advertisements