Die dag toe die vrag hael swaar op ons kwekery se tonnelnette gelê het na die Hoëveldse haelstorm, het ek soos ‘n verkluimde kuiken wat hitte soek in ‘n kombuis waar ‘n koolstoof brand, by Hector se kroeg ingekom. Sopnat en yskoud gesukkel om vragte hael met ‘n besem te probeer afskuif, voordat die nette skeur en ons groot skade kry, terwyl die werkers knus in hulle huisies skuil teen die reën en hael.

Hector het vir die verkluimde hoendertjie ‘n droë T-shirt gaan haal en ek het net daar in die kroeg my nat top uitgetrek en die handdoek dankbaar aangevat om my droog te kry voordat ek in Hector se T-hemp sit en wag het dat Ivy vir my hoenderlewers maak. Ek het so gebewe ek kon skaars die sigaret en die glas skoon brandewyn vashou wat hy in my hand gedruk het.

Dit was die lekkerste peri-peri hoenderlewers van my lewe, maar dié wat ek vanoggend gemaak het, het naby gekom.

Eers het ek ‘n halwe ui gebraai en ‘n klein bakkie hoenderlewers in die pan omgedop. Om die kante van die lewertjies, het ek 3 gesnyde knoffelhuisies, ‘n halwe teelepel elk koljander, komyn, droeë chillie en harissa laat braai. En sout natuurlik. Elke keer as die lewers dreig om droog te braai, het ek bietjie OBS oorgegooi. Toe die lewertjies amper gaar was, ‘n eetlepel tamatiepasta en ‘n teelepel bruin asyn. Julle, dit was lekker. Verskriklik! Ek was ongelukkig te laat om ‘n mooi foto te neem, maar soos julle kan sien, is dit nie té souserig nie. Ek het dit net met avodado geëet, maar MaanMan het ‘n lekker crusty broodjie met dik botter daarby gehad.

19758369_10155400322950396_190163742_n

“Winter is the time for comfort, for good food and warmth, for the touch of a friendly hand and for a talk beside the fire: it is the time for home.”
― Edith Sitwell

 

Advertisements