Sleutelwoorde

Die grootste kunstenaars is die nederigste.
Mens kan hoog raak op Kuns en Kultuur.
Die uitgewerswêreld is ‘n vreesaanjaende bedryf.
Soms word ‘n mens aangenaam verras.
Jou grootste vrese lei dikwels tot aangename verrassings.
Werk kan pret ook wees.
As ek versigtig dink, sukkel ek soms om iets te formuleer, tog kan op my voete dink en doen.
Agterna is baie tyd om te rus.

Hierdie is sommer net ‘n paar dingetjies wat opgekom het tydens ons pas afgelope Boekfees in Kleinmond. Mense was aanvanklik skepties, want hoe hou jy nou so ‘n groot fees met sulke groot name in die bedryf in so ‘n klein dorp; en dit sonder groot geld wat gegooi word deur borge en ‘n span wat vir ‘n salaris werk wat ‘n jaar vooruit werk. Self was ek benoud, ek was bang, maar ons het ingeklim en gedink en gedoen en gehoop. En toe werk dit en het ons uit alle oorde gunstige kommentaar gekry. Selfs al mense wat datums wil hê om hulle 2018 se verlofsakke en verblyf te reël!

Een van my groot hoogtepunte was gesprekke met uitgewers en ander rolspelers, hoe die bedryf inmekaarsteek, hoe boeke versprei en bemark word, watter prosesse ter sprake is vandat ‘n manuskrip gelewer word totdat ‘n boek op die boekwinkel se rak verskyn en jy die e-boek kan aankoop. Dit is eintlik ‘n skrikwekkende proses en ek is verstom dat boeke nie duurder is nie.

Hoewel my man ‘n ywerige leser is, het hy nie verdere belangstelling in die boekbedryf nie. Omdat ek ‘n praatjie oor e-boeke moes lewer en ook gesprekke fasiliteer, het ek hom aanvanklik mooi gevra/gedreig dat hy my rent-a-crowd moes wees. Toe daar inderdaad “crowds” opdaag, het ek gesê hy moet asseblief nie verplig voel om te kom luister nie. En raai wat? Hy wóú bly. Hy het dit geweldig interessant en verruimend gevind. Hy is bly hy het dit bygewoon en het agterna gesê mens behoort meer dinge waarin jy glad nie juis belangstel nie, by te woon, dit verryk jou. Is dit nie oopkopdenke nie?

Dit is wonderlik om van jouself te leer in enige situasie, maar wanneer jy die voorreg het om dit te doen in ‘n omgewing wat vir jou waarde het, is dit ‘n besondere ervaring. Dan vibreer jou hele wese op dieselfde frekwensies van die vibrasies van die geleentheid. ‘n Oomblik van ekstase, wat durend is. So was ek van kleins af nooit bang om my saak te stel nie, maar ek was altyd verleë om dit te doen. Skaam en minderwaardig. Nou het ek besef dat ek die gevoelens van minderwaardigheid iewers langs die pad oorkom het en dit inderdaad verskriklik geniet om gesprekke te fasiliteer en voor mense te praat. (Oukei die ruk by Toastmasters 20 jaar gelede het seker ook gehelp!)

Digters, skrywers, uitgewers, musiekkenners en musikante. Dankie, uit my hart uit, dat julle julle talente met ons kom deel het.

Tydens een van die gesprekke, het ek die voorreg gehad om te luister hoe die digter Louis Esterhuizen hierdie gedig voordra. Dit vat vir my ‘n klomp van die gesprekke saam! Die waarde van lees en boeke in ons lewens word onderskat en ek hoop dit verander in die toekoms. Met Louis se toestemming:

Ken jy die boek …

(Met waardering aan Uys Krige)

Ken jy die boek se ure, Meneer,
die ure deur sweet en wroeg verteer
wanneer die nag, slegs ‘n lamplig weg,
die skrywer met donker spooksels terg.

Dan sê jy nog, Meneer, die boek is duur.

Dié ure is drif, is doolgang en alleen,
is dae, jare selfs, ja, bykans ‘n lewe aaneen
waar die skrywer al skrywend spoor vind
in geskrifte om gedagte met woord te bind.

En jy sê nog, Meneer, die boek is duur.

En dan, die eerste produk, na uitgewer,
keurder en terug, alweer aan ure uitgelewer
om te hersien, herdink, weer en weer besleg
tot uiteindelik, almal besef: Nou is dit reg!

En jy sê nog, Meneer, die boek is duur.

Want nou is dit die ure van produksie,
die ure van redigeer, set en noukeurig lees
van ontwerp, verpakking en advertensie
vir hierdie gedrukte proewe van die gees.

Dan sê jy nog, Meneer, die boek is duur.

Was u al ooit in die ruimtes van rak en boek
waar verkopers u entoesiasties help soek
na daardie één eksemplaar wat u graag wil hê,
want jare terug het u dit glo iewers verlê.

En jy sê nog, Meneer, die boek is duur?

Weet u dat daar vir iedereen ‘n boek bestaan
wat u lewe kan verander, u kan laat verstaan
hoe heerlik die rykdom van gees kan wees,
en hoe plesierig hierdie ervaring van die lees.

Dan sê jy nog, Meneer, die boek is duur?

Maar hoe bepaal ‘n mens die waarde
van iets só raar, gevul met letsels en vuur
wanneer soveel mense ‘n lewe moet maak
uit hierdie afgekamde ambag van papier.

En steeds sê jy, Meneer, die boek is duur …

© Louis Esterhuizen (Ongepubliseerde vers)

 

Advertisements