Soms hang ‘n mens se menswees af van die vlak van begrip van ‘n ander mens se persepsie van jouself. Of so dink iemand waarskynlik wat jou blok uit hulle lewe. So ‘n insident vanoggend het my geleentheid gegee om weer te dink waarin ek nou eintlik glo. Die afgelope tyd het ‘n paar mense my gevra wat ek glo (of nie glo nie) en ek het belowe om dit neer te skryf. Dit is klaarblyklik moeilik om te verstaan dat ek nie ‘n tradisionele Christen óf ‘n Ateïs is nie. Asof daar net ruimte is vir twee uitgangspunte.

My vorige skrywes oor wat en waarin ek glo het opdatering nodig, aangesien dit vir my ‘n voortdurende groeiproses en uitbreiding van my denke is. Dit is moeilik om sommer net so te sê, dit is wat ek glo, maar ek sal probeer om dit saam te vat in een kort bloginskrywing. Dit het immers baie jare geneem om dit vir myself uit te klaar, daarom net baie kortliks:

  • Ek glo aan ‘n Universele Bewussyn waarvan ons almal klein fragmentjies is. (Ander mense noem dit God, maar die woord “God” het vir my te veel konnotasies van ‘n messias-figuur.)
  • Ek glo aan reïnkarnasie van hierdie fragmente, dit  is die grondslag van dit wat ek glo. Dit geld vir die stukkie bewustheid in my (my siel), my DNA wat voortleef in die hare wat in my stort se gaatjie wegspoel en die grondstowwe van my liggaam wat al dermiljoene jaar oud is. Deeltjies van wie ek nou is, was dalk al ‘n koppie tee in California, ‘n boeliebeefblikkie in die ABO en ‘n spiespunt van ‘n grotbewoner. Of dalk die buitekant van ‘n koringkorrel in Egipte?
  • Die stukkie bewustheid wat my ek, myself maak; met my eie persoonlikheid, giere en geite is vir my nie anders as die water en grondstowwe waaruit my lyf bestaan nie. Dit klink vir my logies dat dit ook sal hersirkuleer, net soos die water, yster, kollageen, koolstof en ander minerale en spoorelemente in my lyf. Vandaar dalk die visies wat ek al gekry het van wie ek al voorheen was en waar en hoe ek geleef het. Sulke visies was amper soos ‘n droom op steroïde, as jy die prentjie eenmaal in jou kop gesien het, is dit onmoontlik om uit te wis.
  • Ek glo aan sielsgroepe, primêre en sekondêre groepe, soos beskryf word in Michael Newton se Journey of Souls, maar veral in Brian Weiss se boek Same soul, many bodies. Dit is vir my die verklaring waarom mens dadelik by ‘n persoon aanklank vind, of nie. Jy weet net wanneer julle mekaar gaan vind, ongeag ouderdom, ras en geslag.
  • Ek glo aan ‘n universele goddelike energie, wat in onsself, plante, diere en die natuur vervat is.
  • Ek glo dat alle gelowe eintlik in basies dieselfde goed glo, sommige glo aan ‘n opperwese en/of ‘n profeet, maar die grondbeginsels bly dieselfde. Ek lees soms in my Bybel, wat vir my ‘n samevatting is van veelvuldigvertaalde filosofiese stukke, van skrywers wat probeer sin maak het van die lewe in die tyd wat hulle gelewe het.
  • Ek glo dat ons almal boodskappe kry in die vorm van klein dingetjies, synchronicities wat elke dag oral voorkom. Ons moet oopmaak en die betekenis daarvan soek.
  • Ek glo dat elke mens die beste lewe moet lewe wat moontlik is. Liefde en deernis vir jou medemens uitleef.
  • Ek glo alles gebeur op die regte tyd op die regte plek, en kry kennis deur middel van boodskappe, wanneer jy gereed is daarvoor.
  • Ek glo elke mens het ‘n paar primêre sielsmaats, maar dit is nie noodwendig jou lewensmaat nie. Die mense van wie jy jou lewenslesse leer. (Kan ‘n kind of ‘n ouer of vriend wees, en nie noodwendig saam in hierdie inkarnasie nie.)
  • Ek glo dat tye van swaarkry en uiterste trauma wel beplan is as een van moontlike keuses en dat dit die dinge is wat jou siel laat groei.
  • Ek glo in sekere vlakke van sielsontwikkeling.
  • Ek glo in vergifnis en aanvaarding.

Jare gelede toe ek by die punt gekom het waar waar ek tradisionele Christenskap bevraagteken het, het ek gedink nóú weet ek alles, dat ek daardie dinge ontken het waarmee ek Christelik-Calvinisties grootgeword het. Stelselmatig het ek weer besef daar is baie meer en weer verder begin oopmaak en lees. En nou is die grootste bevryding daarin dat ek besef dat die lewe soveel meer bied as net die ontkenning van Bybelse Christenwees. Dis veel, veel groter as dit. Ons lewens en liggame hier op aarde, is nie ‘n stofdeeltjie van wie ons werklik is of reeds was nie.

Ek voel elke dag ‘n tipe blydskap in my hart vir wie en wat en waar ek is (beide geografies en eksistensieel). Ek is diep dankbaar vir elke happie kos wat ek eet, al prewel ek nie ‘n paar sinne voor ete nie, al gesels ek met die wortel voor ek hom onthoof dat hy sy lewe gee om my te voed.

Ek glo in ‘n Lewenspad, ‘n doel op aarde, en dat elke mens dit moet kan identifiseer voordat spirituele groei bewustelik kan plaasvind. Lewenstemas. Wanneer daar twee duidelike temas in jou lewe is, en jy neem in ag hoe die keuses wat jou lewe se rigting verander het, verskillende maniere gebied het hoe hierdie temas kon manifesteer, word dit nogal ingewikkeld om insig te hê in daardie temas, of jy dit moet oorkom en of jy dit moet leer aanvaar. Dit verg geweldige selfinsig om werklik te besef wat hierdie temas is en hoe dit ons lewens beïnvloed, omdat dit so verwikkeld is, afhangend van die keuses wat ons maak wat die rigting van ons lewens verander, soos verhoudings en beroepskeuses.

Blueprint B

Ek glo my lewenspaadjie lyk soos hierdie blou bal. Die drade is moontlikhede, met keuses en kruisings uitgestippel. Verdikkings by kruise is moontlike Exit Points. So ja, ek glo daar is vrye keuse, maar beperk tot dit wat op jou Blou Bal gemerk is.

As jy jou finale Exit Point van hierdie inkarnasie bereik, glo ek gaan jou siel na ‘n plek waar jy jouself in die oë gaan kyk om te sien of jy dit bereik het in jou persoonlike spirituele groei wat jy gekom het om te doen. Daarna besluit jy saam met jou sielsgroep wat jy nodig het om in ‘n volgende lewe te kom ervaar.

Vir die eerste keer in my middeljarige bestaan voel ek daar is sin in my lew. Daar is ‘n diepe wete binne myself, nie daardie gevoel van vertwyfeling wat ek altyd gehad het nie. As iets reg is, voel mens dit mos binne-in jou diepste wese, jou selle. Vir die eerste keer in my lewe is daar rustigheid in my siel en vrede in my hart, oor waar ek is, maar daar is steeds baie ruimte om my denke te verruim en te verander.

“Out of suffering have emerged the strongest souls; the most massive characters are seared with scars.”
― Kahlil Gibran

Unending Love

I seem to have loved you in numberless forms, numberless times…
In life after life, in age after age, forever.
My spellbound heart has made and remade the necklace of songs,
That you take as a gift, wear round your neck in your many forms,
In life after life, in age after age, forever.

Whenever I hear old chronicles of love, it’s age old pain,
It’s ancient tale of being apart or together.
As I stare on and on into the past, in the end you emerge,
Clad in the light of a pole-star, piercing the darkness of time.
You become an image of what is remembered forever.

You and I have floated here on the stream that brings from the fount.
At the heart of time, love of one for another.
We have played along side millions of lovers,
Shared in the same shy sweetness of meeting,
the distressful tears of farewell,
Old love but in shapes that renew and renew forever.

Today it is heaped at your feet, it has found its end in you
The love of all man’s days both past and forever:
Universal joy, universal sorrow, universal life.
The memories of all loves merging with this one love of ours –
And the songs of every poet past and forever.”

― Rabindranath Tagore (1861-1941) , Selected Poems

Advertisements