‘n Meningsverskil oor die nodigheid van die woorde “Devoted Worship” in ‘n groep waar almal dieselfde doel nastreef, het my laat dink. Ons almal betrokke streef dieselfde waardes na, waar ons optree in ‘n gees van liefde, respek, kundigheid, eerlikheid, samewerking, toegewydheid en inisiatief. Vir my voel dit ons kan dit sonder die vaandel van Godsdiens doen. Ons moet dit dalk júís sonder die vaandel van Godsdiens doen, sodat ons verantwoordelikheid aanvaar vir ons eie denke en dade.

Waarom dink ons Suid-Afrikaners wette en reëls is bloot riglyne? Dwars en weerbarstig oor alles! In die VSA, die UK en in Europa is mense baie meer ingestel om wette (bv verkeersreëls) te gehoorsaam. Hulle doen dit net. Dis nie opsioneel nie. Is dit waarom hulle sisteme net eenvoudig beter werk as by ons? Dit geld ook vir belasting, onderhoud vir kinders, toegewydheid aan jou gesin en vir baie meer. Alles het opsioneel geword. Nee. Dis nie bevorderlik vir welsyn en samesyn en vrede nie. Hier het ‘n mentaliteit ontstaan van as jy kan wegkom daarmee, doen jy dit.

Kan ons dit verander? Dalk as ons by onsself kan begin. By ons eie menswees en grense en respek en integriteit. Ons eie ingesteldheid. Die wete dat ons onsself in die oë moet kan kyk. As ons daarmee tevrede is, kan dit dien as voorbeeld vir ander. So kan dit uitkring in ons huise, in ons dorp en na almal wat ons raak.

Al wat ons uiteindelik kan doen, is om ons eie lewe te leef en self sin te gee daaraan, met die hoop dat dit ook die syn van ‘n ander daardeur sal raak.

“I am free, no matter what rules surround me. If I find them tolerable, I tolerate them; if I find them too obnoxious, I break them. I am free because I know that I alone am morally responsible for everything I do.”
― Robert A. Heinlein

Advertisements