Daar is ‘n sekere energie op ‘n lughawe wat moeilik is om vas te vat, so ‘n gevoel van antisipasie.

Dis maklik om te sien wie vlieg agter werk aan – die vroue is in streng donker pakkies geklee en hulle sleep klein oornag-tassies agter hulle aan, terwyl die sakemanne swaar aan hulle laptopsakke dra. Hulle stap vinnig en doelgerig, met ‘n selfoon wat dikwels gebruik word.

Ons gaan gewoonlik vroeg en dan het ek genoeg tyd om stories te weef rondom die mense. Maar een goeie dag was ek sélf die spektakel, aan wie die mense hulle sit en vergaap, verstom of verwonder het.

Daar was ‘n hele doenigheid aan die gang, ‘n Klomp jong mense met baie blomme en ‘n banner, waarop iets in ‘n vreemde taal geskryf is, het lawaaierig rondgestaan. Die vreemde taal op die banner het Steve, of rugbyspelers of iets uitgeskakel.

Op ‘n kol kon ek my nuuskierigheid nie beteuel nie, en wou gaan vra wat gaan aan. My man is altyd ordentlik, en keer my toe. Maar toe die klomp deur die venster sien dat hulle passasier inderdaad van die vliegtuig afgeklim en op pad was, kon mens sien iets gróót is besig om hier te gebeur. Iets half heiligs, want hulle het nou nie meer lawaai nie, maar in fluisterstemme begin praat.

Net daar besluit ek te hel met ordentlikheid, ignoreer my man, en loop die naaste kind by om te vra wat gaan aan. Dit was ‘n storie wat ek nooit-ooit sou kon uitdink nie.

In Stellenbosch Universiteit se musiekdepartement was ‘n baie talentvolle Russiese meisie, op ‘n soort uitruilprogram, met ‘n volle beurs. Haar ouers is arm, maar soos in tot-op-die-been arm boere, wat elke Vrydag dorp toe loop, want dan bel sy. Haar medestudente kollekteer dan genoeg geld, dat sy kan huis toe bel. So het hulle dan ook geld ingesamel, dat haar ouers kan kom kuier. Nou is die hele lot hier om haar ouers te verwelkom. Hulle het ook verblyf gereël. Teen hierdie tyd huil ek toe nou al heerlik saam, oor die pragtige blonde meisiekind, haar ouers wat vlieg oor die kontinente om te kom kuier, en die studente met die goeie harte.

‘n Pragtige jong seun doen toe sy beste om hierdie tannie te troos, en ek tjank sy hemp nat oor hulle goeie harte, en daar begin ek sommer tjank oor my kind wat ver is. En ek kan nie ophou nie. My man weet toe nie of hy moet weghol, of my kom troos nie.

En toe gebeur dit. Twee krom swartgeklede ou mensies kom met verkreukelde gesigte deur die deure gestap. So ‘n tannie met mans-sokkies en plat skoene. Arm. Baie arm, jy sién dit. Verweer deur die son en elemente. En die pragtige fyn blonde meisiekind hardloop in haar ma se arms in. En haar pa huil, die ma huil, en vee haar gesig en dié van die meisiekind met so ‘n groot bruin mans-sakdoek af. En die studente huil, en toe huil ons almal lékker saam.

Advertisements