Vir weke lank is ek al lus vir sticky wings, met ‘n bietjie byt. By elke restaurant waar ek kom wat dit aanbied, vra ek eers na die tipe basting. As dit uit ‘n bottel kom, weet ek ek moet dit los, anders is maagpyn my voorland. Soms vat ek ‘n kans, soos gister omdat die Portugese restaurant in ‘n nabygeleë dorpie lekker geklink het, soms nie. Die arme hoendervlerkies wat ek die afgelope maande by restaurante te ete gekry het, was almal moeg gevlieg, móég!

Gelukkig het vriendin Dine van Zyl ons vertel van die Lazena hoenderplaas, en verlede week het ons heel hoender, hoenderporsies, hoenderborsies en les bes, hoendervlerkies (nogal op ‘n spesiale aanbod) teen báie goeie pryse daar gekry.

Vanaand het ek besluit, ek wil sticky wings hê, wat geurig en sag gebak is, met ‘n lekker sous wat net-net wil byt – taaigebak op ‘n bros velletjie. Dit was so maklik en ons het ‘n hele bak vol vlerkies gehad. Toe ons klaar was, het ManMan die bak met sy vinger uitgevee en ewe sy mes en vurk teruggegee om weg te pak in die laai – ongebruik. Self was ons lekker taai en het sommer ‘n ekstra glasie wyn gedrink, net omdat dit Vrydag is en dis lekker om by die huis te wees.

Ek het die vlerkies in twee gesny, deur die lit, sodat dit makliker hanteer. Pak in enkellaag in ‘n bak, spinkel met sout, cayenne peper en paprika. ‘n Paar huisies knoffel fyngekap, ‘n stukkie gemmer gerasper en ‘n sousie oorgesmeer van gelyke dele heuning, tamatiesous en worcestershiresous. Ook die sap van ‘n wiggie suurlemoen. In die oond, op heel warm gestel, en die vlerkies kort-kort omgedraai. Toe die sous weggebak het, was die vlerkies sag en net met velkant boontoe, gou onder die grill laat bruin word.

Daarmee saam het ons patat in baie dun ronde skyfies gesny en in bietjie klapperolie gebak, gehad. En slaai vir kleur en om jou gewete te salf. Jy kan self Google vir prentjies van lekker vlerkies, dit het so lekker gelyk, ek het skoon vergeet om ‘n foto te neem!

“I have a head for business and a body for sin. Unfortunately, the sin appears to be gluttony.”
― Jenny Colgan, Meet Me at the Cupcake Café

Advertisements