Die afgelope twee weke se onluste en oproeringe, het die vere behoorlik laat waai in Kleinmond. Sommige mense se goedversorgde vere het net effens geroer en is na aanvanklike intense emosies dadelik weer platgestryk, weer veilig teruggetrek in hulle eie bevoorregte kokonne, tevrede dat hulle vooroordeel weer geregverdig is.  Die minderheid aan die ander kant is dié vir wie daar nie onderskeid ís nie en nie die skeidmure en brûe nodig het nie, wat hartseer moes toekyk hoe vertroue na alle kante toe geskend is. Ander weer doen daadwerklik iets daaraan om brûe te bou tussen verskillende groepe. Tussen hierdie ekstreme is daar gelukkig ook ‘n groot klomp wat nadink daaroor en bereid is om hulle eie vooroordele aan te spreek en selfs uit te daag. Dis hierdie groep wat eenvoudig ingeklim het, aanvaar het ons het ‘n krisis en net gedoen het wat nodig is.

In 1992 het die beginsels van Morita Therapy my deur my Annus horribilis gedra. (Sommige vroue van mans in die SANW wat Stafkursus gedoen het, sal móóntlik verstaan.) Een frase wat ek nooit sal vergeet uit die artikel wat ek in daardie tyd daaroor gelees het nie, is: Do what has to be done. Ek het die artikel ook vir die ander kursusgangers se vroue gefotostateer en gehoop dit beteken ook vir hulle iets. My kinders en vriendinne het daardie tyd die beginsel uitgeleef en my deur hierdie aaklige jaar gedra.

Morita therapy directs one’s attention receptively to what reality brings in each moment—a focus on the present, avoiding intellectualising. Simple seeing what is (without judging), allows for active responding to what needs doing. Most therapies strive to reduce symptoms. Morita therapy, however, aims at building character to enable one to take action responsively in life regardless of symptoms, natural fears, and wishes. Character is determined by behavior, by what one does. Dogmatic patterns of collapse are replaced with the flexibility to call upon courage and empowerment. Decisions become grounded in purpose rather than influenced by the fluid flow of feelings.

Oor al die jare het hierdie paar woorde my deur baie krisisse gedra, ook hierdie krisis in ons dorp: Do what has to be done.

Koos Kombuis skryf vandag in ‘n rubriek oor ruimtelike intelligensie (spatial intelligence) en hoe dit ons raak in terme van ons aanpassing by die nuwe Suid-Afrika. Ek kan nie genoeg met hom saamstem nie. Hierdie week het ek net weer by ‘n vergadering gesien hoe diepgewortel en vasgelê vooroordeel en rassisme is, goed verdoesel onder ‘n blinkgelakte lagie vernis. Hierdie vernis kraak vinnig as daar enige uitdaging gestel word om hierdie dinge in die oë te kyk. Nee, die status quo moet te alle tye gehandhaaf word, kompleet met ‘n agenda soos van ouds. Om werklik jou ingesteldheid te verander teenoor ou vasgelegde patrone en vooroordele, is een van die moeilikste dinge. Tóg is dit moontlik. Wêreldwyd is daar baie dinge wat verander het op alle gebiede, alles gebeur in versnelde tempo en as jy nie vir jou gaan oopstel om by te bly met veranderinge nie, gaan die stroom jou uitspoeg. Die kalm, breë riviere van ouds met skoon water, het verander in vinnige strome wat nuwe grond uitkalwe. Ons stille strome van pre-1994 was ook maar stille waters, diepe grond, onder swem die illusie-duiwels rond. Ons kan kies om te leer hoe om White river rafting te doen, of uitgespoel word saam met die dooie takke en opdrifsels. Sou jy kies om die illusie te leef van die stille waters, het jy nog nooit ‘n rivier gesien wat afkom na stormreën en alles meesleur wat in sy pad kom nie.

Koos K

Do what has to be done. Ontwikkel jou ruimtelike intelligensie en sien jouself in perspektief ten opsigte van die nuwe, veranderde lewe.

 

Advertisements