22221715_10214690923891400_2310290698697819829_nMy jongste werknemer ooit was vyf. Hy het homself aangestel en was baie adamant oor sy vermoëns as verkoopsman by Eagles Nest Kwekery. Sy ma het vreeslik apologeties gebel en gesê hy dring daarop aan om Saterdae by die kwekery te kom werk (as die kleuterskooltye nou nie inmeng nie) en wil ek hom nie asseblief net vir ‘n uur of twee verduur nie, hy sal gou moeg word daarvoor. Nou hy was ‘n liewe ou dingetjie, slim soos die houtjie van die galg en ek het gesê ek sal hom met liefde oppas vir ‘n ruk, laat hy kom. En waar verras die mannetjie ons!

Ek het Moses aangesê om hom onder sy oog te hou as ek besig is, maar hy het my gou-gou met spierwit oë kom roep: “Madam, this child, she is selling roses to all the customers!” Ek het ‘n vinnige woordjie gehad met die mense, en verskoning gevra maar raai wat! Hulle het hom so oulik gevind, hulle het trollies vol rose gekoop, wat die outjie dan een vir een met die groen trollie opgesleep het boontoe. Hy was nie tevrede met net rose nie, vir elke roos het hy ook ‘n sak kompos aan hulle afgesmeer en gesê die gif vir die rose moet hulle by my in die kantoor koop. Hulle het natuurlik sulke rojale fooitjies gegee, wat hy dan terstond by die teetuin gaan uitgee het op melkskommels, scones en koek vir hom en Moses.

Die outjie het nogal deursettingsvermoë gehad! Hy het omtrent vyf Saterdae kom “werk” en toe een dag laat weet hy moet te hard werk daar, hy kom nie meer nie. Die harde werk het hom darem spiere gegee… Kyk net die arms wat hy vandag het van al die trollies trek!

22215288_10155700841475396_1797136233_nDit was nie die enigste seuntjie seuntjie-met-‘n-storie uit daardie tyd nie. My jongste bemarker, was twee. Een van ons klante by ons Verimark winkel het ek as tweejarige leer ken. Hy het ‘n absolute obsessie met Verimark, die advertensies en die produkte gehad. Hy het elke produk geken en as sy ouers naby die Hyperamasentrum waar ons winkel was gery het, het hy aangedring om in te kom. Hy was vreeslik lief vir my ook en as sy ouers vir hom op ‘n Saterdag vra of hy McDonalds wil hê (dit was mos nog nuut en lekker!) dan sê hy nee, hy wil vir “Tweeza” gaan kuier.  Dan kom klim hy by my op die toonbank (een keer met ‘n nat doek en al) en bewaar die klant wat inkom en vir ‘n produk vra, dié kry dan summier sy weergawe van die advertensie en hy draf en gaan wys waar staan dit op die rakke. Mense het aanvaar dis my kleintjie omdat hy alles so ken, en almal behalwe een suurgatvrou het gedink hy is ‘n dierbare dingetjie, so klein nog en so slim en welsprekend.

Van sy ouers het ek steeds hierdie klein token wat hulle vir my gemaak het as ‘n gebaar van waardering, om te verseker dat ek altyd liefde en balans in my lewe sal hê. Ek het pas vir die eerste keer in baie jare gehoor dat dit inderdaad goed gaan met die jong man en dat hy ‘n briljante student is wat nog dikwels praat oor sy kleintyd se obsessie met Verimark.

Nou verstaan ek natuurlik hierdie dinge uit totaal ‘n ander oogpunt, maar dit maak my bly dat daar eenmaal kindertjies was wat kortstondig op een frekwensie met my vibreer het.

And what is it to work with love?
It is to weave the cloth with threads drawn from your heart,
even as if your beloved were to wear that cloth.
It is to build a house with affection,
even as if your beloved were to dwell in that house.
It is to sow seeds with tenderness and reap the harvest with joy,
even as if your beloved were to eat the fruit.
It is to charge all things you fashion with a breath of your own spirit,
And to know that all the blessed dead
are standing about you and watching.
– Kahlil Gibran

Advertisements